Alberton
Die Gereformeerde Kerk Alberton het ontstaan.
'n Geloofsfamilie van God.
Die Gereformeerde Kerk Alberton-Wes is 'n geloofsfamilie van God wat Jesus Christus getrou volg, Sy liefde uitleef en Sy Evangelie verkondig deur die krag van die Heilige Gees.
Ons glo dat elke lidmaat geroep is om daagliks te groei in hul persoonlike verhouding met die Here. Ons ondersteun mekaar op hierdie geloofsreis en moedig mekaar aan om verantwoordelikheid vir ons geestelike groei te neem.
Lidmate word liefdevol deur ons leierskap en mede-lidmate begelei om hierdie geloofswaarheid in hul daaglikse lewe te integreer.
Een gemeente, verskillende geskiedenisse, saam geroep om die evangelie uit te dra.
Die Gereformeerde Kerk Alberton het ontstaan.
Die Gereformeerde Kerk Alberton-Wes het afgestig.
Brackenhof het ontstaan uit die samesmelting van die gemeentes Eikenhof en Brackenhurst.
Die Gereformeerde Kerk Alberton-Wes betree in 2024 ’n nuwe hoofstuk in sy geskiedenis. Ná jare waarin die Gereformeerde Kerke Alberton, Alberton-Wes en Brackenhof elkeen afsonderlik in die gemeenskap gedien het, word ons nou saamgebind in ’n nuwe fase van gemeentelike samewerking en bediening.
Die huidige samevoeging bring lidmate met verskillende geskiedenisse, herinneringe en gawes bymekaar. Ons neem met dankbaarheid kennis van die geloofsarbeid, dienswerk en getuienis van almal wat deur die jare in hierdie gemeentes betrokke was. Die vrug van hulle arbeid vorm deel van die erfenis waarop ons vandag voortbou.
As deel van hierdie nuwe fase word die kerkgeboue gekonsolideer, met die kerkgebou van Alberton-Wes as die gemeenskaplike plek van aanbidding en gemeentelike byeenkomste.
Ons sien hierdie nuwe hoofstuk nie bloot as ’n organisatoriese verandering nie, maar as ’n geleentheid om saam te groei in geloof, liefde en diensbaarheid. Ons roeping bly onveranderd: om getrou aan God se Woord te leef, die evangelie van Jesus Christus te verkondig en met liefde na mekaar en ons gemeenskap uit te reik.
“Elkeen ’n getuie – saam dra ons die evangelie uit!”
Ons doen dit met die woorde van 1 Petrus 3:15 as rigtingwyser: om altyd gereed te wees om verantwoording te doen van die hoop wat in ons leef.
Ons vertrou dat die Here ons as gemeente sal lei en toerus om in hierdie nuwe fase saam te werk tot eer van sy Naam en tot uitbreiding van sy koninkryk.
Aan God alleen die eer!
Klik op enige opskrif hieronder om die teks op hierdie blad oop te maak.
Die Gereformeerde Kerk bely die Bybel as die onfeilbare Woord van God. Ons belydenisskrifte vat saam wat die Skrif leer, en ons hou daaraan vas as die gemeente se getuienis van ons geloof.
Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.
En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here; wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria; wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en wat die angste van die hel tot in die dood toe ondergaan het;
Wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dood; opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader, waarvandaan Hy sal kom om die lewendes en die dooies te oordeel.
Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo aan ‘n heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges; die vergewing van sondes; die opstanding van die liggaam en ‘n ewige lewe.
Amen
Ons glo in een God, die almagtige Vader, die Skepper van die hemel en aarde, van alle sigbare en onsigbare dinge;
en in een Here Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, voor al die eeue uit die Vader gebore:
Hy is God uit God, lig uit lig, ware God uit ware God,
gebore, nie gemaak nie, een in wese met die Vader, deur wie alles tot stand gekom het.
Hy het ter wille van ons, mense, en ons saligheid uit die hemel neergedaal
en het deur die Heilige Gees uit die maagd Maria vlees geword: Hy het mens geword;
onder Pontius Pilatus is Hy vir ons gekruisig;
Hy het gely en is begrawe.
Op die derde dag het Hy volgens die Skrifte opgestaan, en Hy het na die hemel opgevaar.
Hy sit aan die regterhand van die Vader, en Hy sal met heerlikheid terugkom
om die lewendes en die dooies te oordeel.
Aan Sy koningskap sal daar geen einde wees nie.
Ons glo in die Heilige Gees, wat Here is en lewend maak.
Hy gaan van die Vader en die Seun uit, en Hy word saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik.
Hy het deur die profete gespreek.
Ons glo aan een, heilige, algemene en apostoliese kerk.
Ons bely een doop tot vergifnis van sondes.
Ons verwag die opstanding van die dooies en die lewe van die toekomstige bedeling.
Amen.
Vir elkeen wat salig wil word, is dit in die eerste plek nodig dat hy die algemene geloof moet vashou. As iemand dit nie heeltemal en ongeskonde bewaar nie, sal hy sonder twyfel ewig verlore gaan. Die algemene geloof is: Ons moet die een God in die Drieheid en die Drieheid in die Eenheid eer, sonder om die persone te vermeng of die wese te deel. Want die persoon van die Vader is 'n ander, dié van die Seun is 'n ander, dié van die Heilige Gees is 'n ander. Tog het die Vader en die Seun en die Heilige Gees een Godheid, gelyke eer en gelyke ewige heerlikheid. Soos die Vader is, so is ook die Seun en ook die Heilige Gees. Die Vader is ongeskape, die Seun is ongeskape, die Heilige Gees is ongeskape; onmeetlik is die Vader, onmeetlik is die Seun, onmeetlik is die Heilige Gees; die Vader is ewig, die Seun is ewig, die Heilige Gees is ewig. Nogtans is daar nie drie ewiges nie maar een Ewige, net soos daar ook nie drie ongeskapenes of drie onmeetlikes is nie maar een Ongeskapene en een Onmeetlike. Eweneens is die Vader almagtig, die Seun almagtig, die Heilige Gees almagtig; en tog is daar nie drie almagtiges nie maar een Almagtige. So ook is die Vader God, die Seun God, die Heilige Gees God; en tog is daar nie drie gode nie maar een God. Net so is die Vader Here, die Seun Here, die Heilige Gees Here; en tog is daar nie drie heres nie maar een Here. Want soos ons deur die Christelike waarheid gedwing word om elke Persoon afsonderlik God en Here te noem, word ons ook deur die algemene geloof verbied om drie gode of heres te bely. Die Vader is deur niemand gemaak of geskep of gegenereer nie; die Seun is deur die Vader alleen nie gemaak of geskep nie maar gegenereer; die Heilige Gees is deur die Vader en die Seun nie gemaak of geskep of gegenereer nie maar gaan van Hulle uit. So is daar dan een Vader, nie drie vaders nie; een Seun, nie drie seuns nie; een Heilige Gees, nie drie heilige geeste nie. En in hierdie Drieheid is daar nie eerste of laaste nie, nie meeste of minste nie, maar al drie Persone het gelyke ewigheid en is heeltemal aan mekaar gelyk, sodat in alle opsigte, soos hierbo gesê is, die Eenheid in die Drieheid en die Drieheid in die Eenheid geëer moet word. Wie dus salig wil word, moet so oor die Drie-eenheid dink.
Maar vir die ewige saligheid is dit nodig dat hy ook getrou aan die menswording van ons Here Jesus Christus moet glo. So is die regte geloof dan: Ons glo en bely dat ons Here Jesus Christus, die Seun van God, tegelyk God én mens is. Hy is God uit die Wese van die Vader, voor alle tye gegenereer, en mens uit die wese van sy moeder, in die tyd gebore; volkome God, volkome mens met 'n redelike siel en menslike vlees, na die Godheid aan die Vader gelyk, na die mensheid minder as die Vader. En alhoewel Hy God en mens is, is Hy nogtans nie twee nie maar een Christus. Hy is een, nie deur verandering van die Godheid in die vlees nie maar deur die aanneming van die mensheid in God. Hy is in alle opsigte een, nie deur vermenging van die wese nie maar deur die eenheid van die Persoon. Want soos die redelike siel en die vlees een mens is, so is God en mens een Christus, wat ter wille van ons saligheid gely het. Hy het die lyding van die hel ondergaan*. Hy het op die derde dag uit die dood opgestaan, na die hemel opgevaar het en aan die regterhand van God, die almagtige Vader, sit. Daarvandaan sal Hy kom om die lewendes en die dooies te oordeel. By sy koms sal alle mens, met hulle liggame, opstaan en van hulle eie werke moet rekenskap gee. En die wat goed gedoen het, sal die ewige lewe ingaan, maar die wat sonde gedoen het, in die ewige vuur. Dit is die algemene geloof; en as iemand dit nie getrou en vas glo nie, sal hy nie salig kan word nie.
Die regsinnige Christelike belydenis van die Nederlandse kerke, wat die hoofinhoud van die leer in verband met God en die ewige saligheid van siele insluit.
In 'n tyd van groot vervolging van Protestantse Kerke is hierdie Belydenisskrif deur Guido de Bres opgestel. Dit was in die jaar 1561 in die Suidelike Nederlande (vandag België). Verskeie Sinodes in die 16de eeu asook die Nasionale Sinode van Dordrecht (1618-1619) het dit as een van die Belydenisskrifte van die Gereformeerde Kerke aanvaar.
Ons glo almal met die hart en bely met die mond dat daar 'n enige en enkelvoudige geestelike Wese is wat ons God noem. Hy is ewig, onbegryplik, onsienlik, onveranderlik, oneindig, almagtig, volkome wys, regverdig, goed en die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is.
2 Kor. 3:17; Joh. 4:24; Jes. 40:14.
Ons ken Hom deur twee middele: Ten eerste deur middel van die skepping, onderhouding en regering van die hele wêreld. Dit is immers voor ons oë soos 'n mooi boek waarin alle skepsels, groot en klein, die letters is wat ons die onsigbare dinge van God, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, duidelik laat sien, soos die apostel Paulus sê (Rom 1:12). Al die dinge is genoegsaam om die mense te oortuig en hulle alle verontskuldiging te ontneem. Ten tweede maak Hy Hom deur sy heilige en Goddelike Woord nog duideliker en meer volkome aan ons bekend en wel so veel as wat vir ons in hierdie lewe nodig is tot sy eer en tot die saligheid van hulle wat aan Hom behoort.
Ps. 19:2; Ef. 4:6; 1 Tim. 2:5; Deut. 6:4; Mal. 2:4; 1 Kor. 8:4, 6; 1 Kor. 12; 1 Kor. 1.
Ons bely dat hierdie Woord van God nie deur die wil van 'n mens gestuur of voortgebring is nie, maar die heilige mense van God het dit, deur die Heilige Gees gedrywe, gespreek, soos die heilige Petrus sê (2 Pet 1:21). Daarna het God deur sy besondere sorg vir ons en ons saligheid sy knegte (profete en apostels) beveel om sy geopenbaarde Woord op skrif te stel en Hy self het met sy vinger die twee tafels van die wet geskrywe. Daarom noem ons sulke geskrifte die heilige en Goddelike Skrif.
2 Pet. 1:21; Ps. 102:19; Eks. 17:14; (Deut. 3); Eks. 34:27; Deut. 5:22; Eks. 31:18.
Ons vat die Heilige skrif in twee dele saam: die Ou en die Nuwe Testament. Dit is die kanonieke boeke waarteen niks ingebring kan word nie. Hulle getal in die kerk van God is soos volg: Die boeke van die Ou Testament, nl. die vyf boeke van Moses: Genesis, Eksodus, Levitikus, Numeri en Deuteronomium; die boeke Josua, Rigters, Rut, 1 en 2 Samuel, 1 en 2 Konings, 1 en 2 Kronieke (genoem Paralipomenon), Esra, Nehemia, Ester, Job, die Psalms van Dawid, drie boeke van Salomo: Spreuke, Prediker en Hooglied; die vier groot profete: Jesaja, Jeremia, Esegiël en Daniël; en vervolgens die twaalf klein profete: Hosea, Joël, Amos, Obadja, Jona, Miga, Nahum, Habakuk, Sefanja, Haggai, Sagaria en Maleagi. Die boeke van die Nuwe Testament, nl.: vier evangeliste: Matteus, Markus, Lukas en Johannes; die Handelinge van die apostels; die veertien briewe van die apostel Paulus: aan die Romeine, twee aan die Korintiërs, aan die Galasiërs, die Efesiërs, die Filippense, die Kolossense, twee aan die Tessalonisense, twee aan Timoteus, aan Titus, Filemon en die Hebreërs; die sewe briewe van die ander apostels: die brief van Jakobus, twee van Petrus, drie van Johannes en die brief van Judas en die Openbaring van die apostel Johannes.
Ons aanvaar al hierdie boeke en hulle alleen, as heilig en kanoniek om ons geloof daarna te rig, daarop te grondves en daarmee te bevestig. Ons glo ook sonder twyfel alles wat daarin vervat is, nie juis omdat die kerk hulle aanvaar en as sodanig beskou nie maar veral omdat die Heilige Gees in ons hart getuig dat hulle van God is. Hulle het ook die bewys daarvan in hulleself, aangesien selfs die blindes kan tas dat die dinge wat daarin voorspel is, plaasvind.
Ons onderskei hierdie heilige boeke van die apokriewe boeke: die derde en vierde boek van Esra, die boek van Tobias, Judit, die Wysheid, Jesus Sirag, Barug, die byvoegsel by die geskiedenis van Ester, die Gebed van die drie manne in die vuur, die Geskiedenis van Susanna, die Beeld van Bel en die Draak, die Gebed van Menasse en die twee boeke van die Makkabeërs. Die kerk mag hierdie boeke wel lees en daaruit lering trek vir sover hulle met die kanonieke boeke ooreenstem. Hulle het egter geensins sodanige krag of gesag dat iemand deur hulle getuienis enigiets van die geloof of van die Christelike godsdiens sou kan bevestig nie. Hulle mag nie in die minste aan die gesag van ander, die heilige boeke, afbreuk doen nie.
Ons glo dat hierdie Heilige Skrif die wil van God volkome bevat en dat alles wat die mens vir sy saligheid moet glo, daarin voldoende geleer word. Aangesien die hele wyse waarop God deur ons gedien moet word, daarin breedvoerig beskrywe word, mag ook niemand, selfs nie die apostels nie, anders leer as wat ons reeds deur die Heilige Skrif geleer word nie - ja, al was daar ook 'n engel uit die hemel, soos die apostel Paulus sê (Gal 1:8). En aangesien dit verbode is om iets by die Woord van God by te voeg of daarvan weg te laat (Deut 12:32), blyk dit duidelik dat die leer daarvan heeltemal volmaak en in alle opsigte volkome is. Ons mag ook geen geskrifte van mense, hoe heilig die mense ook al was, met die Goddelike Skrif gelykstel nie; ook mag ons nie die gewoonte of die groot getalle of oudheid of opvolging van tye of van persone of kerkvergaderings, verordeninge of besluite met dié waarheid van God gelykstel nie, want die waarheid is bo alles. Alle mense is immers uit hulleself leuenaars en nietiger as die nietigheid self (Ps 62:10). Ons verwerp daarom met ons hele hart alles wat nie met hierdie onfeilbare reël ooreenkom nie, soos die apostels ons leer as hulle sê: '\...maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is' (1 Joh 4:1), en: 'As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie\...' (2 Joh :10).
2 Tim. 3:17; 1 Pet. 1:11, 12; Spr. 30:6; Gal. 3:15; Op. 22:18; 1 Tim. 1:3; Gal. 1:8,11; 1 Kor. 15:2; Hand. 26:22; Rom. 15:4; Hand. 18:28-29; 1 Pet. 4; Luk. 11:13; 2 Tim. 3:24; 2 Tim. 1:13; Kol. 2:8; Hand. 4:19; Joh. 3:13; 2 Pet. 2:16; Joh. 15:15; 1 Joh. 1:5; Hand. 20:27; 2 Joh. 1; Joh. 4:25; Deut. 12:32; Heb. 8:9; Matt. 15:3; 17:5; Mark. 7:7; Jes. 1:12; Hand. 1:21; Rom. 3:4; Jes. 8:20; 2 Tim. 4:(3); 1 Kor. 1:13; 2:4; 3:11; 1 Pet. 5:12; 2 Tess. 2:2; Ps 12:7; 19:8-9,12; Deut. 4:6; 6:9; Ef. 4:5; Joh. 5; Kol. 1:16,18; 1 Kor. 8:6.
Ons glo volgens hierdie waarheid en hierdie Woord van God in 'n enige God, een enige wese, in wie drie Persone is, naamlik die Vader en die Seun en die Heilige Gees, wat in werklikheid en in waarheid en van ewigheid af onderskeie is volgens die eienskappe wat Hulle nie met mekaar deel nie. Die Vader is die oorsaak, oorsprong en begin van alle sigbare en onsigbare dinge. Die Seun is die Woord, die Wysheid en die Beeld van die Vader. Die Heilige Gees is die ewige Krag en Mag wat van die Vader en die Seun uitgaan. Nogtans volg uit hierdie onderskeiding nie dat God in drie gedeel is nie, aangesien die Heilige Skrif ons leer dat die Vader en die Seun en die Heilige Gees elkeen sy eie selfstandigheid het, deur sy eienskappe op so 'n wyse ondeske dat hierdie drie Persoon slegs een enige God is. Dit is dus duidelik dat die Vader nie die Seun en die Seun nie die Vader is nie; eweneens dat die Heilige Gees nie die Vader en ook nie die Seun is nie. Nogtans is hierdie Persone, wat so onderskeie is, nie gedeel nie en ook nie onderling vermeng nie. Want die Vader en die Heilige Gees het nie vlees aangeneem nie, maar slegs die Seun. Die Vader was nooit sonder sy Seun of sy Heilige Gees nie, want al drie is van gelyke ewigheid af in een en dieselfde Wese. Daar is nie 'n eerste of 'n laaste nie, want al drie is een in waarheid, mag, goedheid en barmhartigheid.
1 Kor. 1:24; Joh. 1:14; 1 Joh. 1:1; Op. 19:13; Spr. 8:22; Kol. 1:15; Matt. 28:19; 3:16; Joh. 1:14; Miga 5:1.
Ons weet dit alles sowel uit die getuienisse van die Heilige Skrif as uit hulle werkinge, veral uit werkinge wat ons in onsself voel. Die getuienisse van die Heilige Skrif wat ons leer om in hierdie heilige Drie- eenheid te glo, staan op baie plekke in die Ou Testament, en dit is nie nodig om hulle almal op te noem nie. Ons kan hulle onderskeidend en oordeelkundig uitkies: Genesis 1:26 en 27: 'En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis\...En God het die mens geskape na sy beeld; man en vrou het Hy hulle geskape'; Genesis 3:22: 'Toe sê die Here God: Nou het die mens geword soos een van Ons'. Wanneer God sê: Laat Ons mense maak na Ons beeld, blyk daaruit dat daar meer as een Persoon in die Godheid is. En as Hy sê: God het geskep, wys Hy die eenheid van die Godheid aan. Welliswaar sê hy nie hoeveel Persone daar is nie, maar wat vir ons in die Ou Testament enigsins duister is, is in die Nuwe Testament baie duidelik. Want toe die Here in die Jordaan gedoop is, is die stem van die Vader gehoor, wat sê: 'Dit is my geliefde Seun' (Matt 3:17). Die Seun is in die water gesien en die Heilige Gees het Hom in die vorm van 'n duif geopenbaar. Buitendien is vir die doop van alle gelowiges hierdie formule deur Christus vasgestel: 'Doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees' (Matt 28:19). In die Evangelie van Lukas sê die engel Gabriël aan Maria, die moeder van die Here: 'Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom ook sal die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word' (Luk 1:35); eweneens: 'Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sy met julle almal' (2 Kor 13:13), en: 'Want daar is drie wat getuig in die hemel: die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een; en daar is drie wat getuig op die aarde: die Gees en die water en die bloed en die drie is eenstemmig' (1 Joh 5:7-8). Ons word op al hierdie plekke baie duidelik geleer dat daar drie persone in een, enige Goddelike Wese is. Al gaan hierdie leer die menslike verstand ver te bowe, glo ons dit nou tog deur die Woord, terwyl ons verwag om die volle kennis en vrug daarvan in die hemel te geniet. Verder moet ons ook let op die besondere ampte en op die eie werkinge van die drie Persone met betrekking tot ons: Die Vader word ons Skepper deur sy krag genoem; die Seun is ons Saligmaker en Verlosser deur sy bloed; die Heilige Gees is ons Heiligmaker deur sy inwoning in ons hart. Die leer van die heilige Drie-eenheid is in die ware kerk van die tyd van die apostels af tot nou toe altyd onderhou en gehandhaaf teenoor die Jode, Mohammedane en sommige valse christene en ketters soos Marcion, Mani, Praxeas, Sabellius, Samosatenus, Arius en derglike, wat tereg deur die regsinnige vaders veroordeel is. Daarom aanvaar ons in hierdie opsig graag die drie belydenisse, naamlik dié van die Apostels, Nicéa en Athanasius en ook wat die ou vaders in ooreenstemming hiermee besluit het.
Gen. 5:1; Matt. 3:16; 28:19; Luk. 1:35; Hand. 2:32; 2 Kor. 13:13; 1 Joh. 5:7; Hand. 2:32,33; 1 Pet. 1:12; 1 Joh. 4:13-14; Gal. 4:6; Ef. 3:14,16; Tit. 3:4-6; Jud. :20,21; Rom. (6) 8:9; Hand. 10:38; 8:29,37; Joh. 14:16; 1:33; Spr. 25:27.
Ons glo dat Jesus Christus ten opsigte van sy Goddelike natuur die eniggebore Seun van God is. Hy is van ewigheid af gebore; Hy is nie gemaak nie en nie geskep nie, want dan sou Hy 'n skepsel wees; Hy is een wese met die Vader, ewig saam met Hom, die ewebeeld van die Persoon van die Vader, ewig saam met Hom, die heerlikheid (Heb 1:3) en in alles aan Hom gelyk (Fil 2:6). Hy is van ewigheid die Seun van God en nie slegs sedert Hy ons natuur aangeneem het nie; so leer die volgende getuienisse ons as hulle met mekaar vergelyk word. Moses sê dat God die wêreld geskep het, en die heilige Johannes sê dat alle dinge ontstaan het deur die Woord, wat hy God noem (Gen 1:1 en Joh 1:3). Die apostel sê dat God die wêreld deur sy Seun gemaak het en ook dat God alle dinge deur Jesus Christus geskep het (Heb 1:2 en Kol 1:16). So moet Hy wat God, die Woord, die Seun en Jesus Christus genoem word, dus reeds bestaan het toe alles deur Hom geskep is. En daarom sê die profeet Miga: 'Sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid' (Miga 5:1), en sê die apostel: 'Hy is sonder begin van dae of lewenseinde' (Heb 7:3). Hy is dus ware, ewige God, die Almagtige, wat ons aanroep, aanbid en dien.
Joh. 1:18,34,49; 1:14; Kol. 1:15; Heb. 1:3; Matt. 3:17; 17:5; Joh. 8:24; 10:30; 9:36; Hand. 8:34; Jes. 7:14; Rom. 9:5; 1 Tess. 3:11; Fil. 2:11; 2 Kor. 5:19; Hand. 20; Ef. 3:9; Rom. 14; Tit. 2; 1 Kor. 8:6; Heb. 1:1; 3:4; Joh. 1:3; 1 Joh. 5; Joh. 7, 14, 20; Op. 1-6; Joh. 8:58; 17:5; 1 Kor. 10:9; Gal. 4:4; Miga 5:2; Kol. 1:15; Ps. 2:7,12; Heb. 13:8.
Ons glo en bely ook dat die Heilige Gees van ewigheid van die Vader en die Seun uitgaan; dat Hy nie gemaak of geskep of gebore is nie maar van albei slegs uitgaan; dat Hy in orde die derde Persoon van die Drie-eenheid is; dat Hy van een en dieselfde wese, majesteit en heerlikheid as die Vader en die Seun is; dat Hy inderdaad ware en ewige God is, soos die Heilige Skrif ons leer.
Gen. 1:1; Heb. 1:3, 11:3; Joh. 1:3; Ps. 33:6; Jer. 32:17; Mal. 2:10; Joh. 1:3; Joh. 16:26; Ps. 104; Amos 4:13; Joh. 14:16,26.
Ons glo dat die Vader, toe Hy dit goedgedink het, deur sy Woord, dit wil sê deur sy Seun, die hemel en die aarde en alle skepsels uit niks geskep het. Hy het aan elke skepsel 'n eie wese, gestalte en voorkoms en onderskeie take gegee om sy skepper te dien. Hy onderhou en regeer hulle almal nou nog deur sy ewige voorsienigheid en oneindige krag om die mens te dien, sodat die mens sy God kan dien; en Hy het ook die engele goed geskep om sy boodskappers te wees en sy uitverkorenes te dien. Sommige van die engele het uit die verhewenheid waarin God hulle geskep het, in die ewige verderf verval, maar die ander het deur die genade van God in hulle toestand volhard en staande gebly. Die duiwels en bose geeste het so ' ontaard dat hulle vyande van God sowel as van alles wat goed is. Soos moordenaars loer hulle op die kerk - ook op elke lidmaat - om dit met alle mag in die verderf te stort en om alles deur hulle bedrieëry te verwoes. Daarom staan hulle deur hulle eie boosheid veroordeel tot die ewige verdoemenis en verwag hulle daagliks hulle verskriklike pyniging. Daarom verfoei ons ook die dwaling van die Saduseërs, wat ontken dat daar geeste en engele is; ook verwerp ons die dwaling van die Manigeërs, wat sê dat die duiwels hulle oorsprong uit hulleself het en reeds van nature sleg is en nie sleg geword het nie.
Jes. 40:26; Matt: 28:19; 1 Joh. 5:15; Hand. 5:3; 1 Kor. 3:16; 6:11; Rom. 8:9; Kol. 1:16; 1 Tim. 4:3; Heb. 3:4; Op. 4:11; 11:16; Heb. 1:14; Ps. 103:21; 34:8; Joh. 8:44; 2 Pet. 2:4; Luk. 8:31; Matt. 25:41; Hand. 23:8; Matt. 4.
Ons glo dat die goeie God, nadat Hy alle dinge geskep het, dit nie laat vaar of aan die toeval of geluk oorgegee het nie maar dit volgens sy heilige wil so bestuur en regeer dat in hierdie wêreld niks sonder sy beskikking gebeur nie. Tog is God nie die bewerker van die sondes wat gedoen word nie, en Hy dra ook nie die skuld daarvoor nie. Sy mag en goedheid is immers so groot en onbegryplik dat Hy sy werk baie goed en regverdig beskik en uitvoer, selfs al handel die duiwels en goddelose mense onregverdig. Ons wil ook nie verder as wat ons kan verstaan, nuuskierig ondersoek instel na dié dinge wat Hy bo die vermoë van die menslike verstand doen nie; inteendeel, ons eerbiedig juis in alle nederigheid en in aanbidding die regverdige oordele van God wat vir ons verborge is. Ons is tevrede daarmee dat ons leerlinge van Christus is om slegs te leer ken wat Hy aan ons in sy Woord openbaar, sonder om die grense daarvan te oorskry. Hierdie leer bied onuitspreeklike troos as ons daardeur geleer word dat niks per toeval oor ons kan kom nie maar alles deur die beskikking van ons goeie hemelse Vader oor ons kom. Hy waak oor ons met vaderlike sorg en heers so oor alle skepsels dat sonder die wil van ons Vader nie een haar van ons kop - hulle is almal getel - en ook nie een mossie op die aarde kan val nie (Matt 10:29, 30). Ons verlaat ons hierop, omdat ons weet dat Hy die duiwels en al ons vyande in toom hou, sodat hulle ons sonder sy toelating en wil geen skade kan aandoen nie. Daarom verwerp ons ook die gruwelike dwaling van die Epikureërs, wat sê dat God Hom met niks bemoei nie en alle dinge aan die toeval oorlaat. Joh. 5:17; Heb. 1:3; Sp. 16; Ef. 1:11; Jak. 4:13,19; Job 1:21; 2 Kon. 22:20; Hand. 4:28; 2:23; 1 Sam. 2:25; Ps. 115:13; Jes. 45:7; Amos 3:6; Deut. 19:5; Spr. 21:1; Ps. 105:25; Jes. 10:9; 2 Tess. 2:11; Eseg. 14:9; Matt. 10:29; Rom. 1:28; 1 Kon. 11:23; Gen. 45:8; 50:20; 2 Sam. 16:10; Matt. 8:31; 1 Joh. 2:16; Ps. 5:5; 1 Joh. 3:8; Gen. 1:26; Kol. 1:15; 3:10.
Ons glo dat God die mens uit die stof van die aarde geskep het; Hy het hom volgens sy beeld en gelykenis gemaak en gevorm, dit wil sê goed, regverdig en heilig, sodat hy met sy wil in alles met die wil van God ooreenstem. Maar toe hy in aansien was, het hy dit nie verstaan nie en sy uitnemendheid nie besef nie. Hy het homself egter, deur na die woord van die duiwel te luister, willens en wetens aan die sonde en daarmee aan die dood en die vervloeking onderwerp. Hy het immers die gebod van die lewe wat hy ontvang het, oortree en homself deur die sonde losgeskeur van God, wat sy ware lewe was; so het hy sy hele natuur verderf en daarmee die liggaamlike en geestelike dood verdien. Hy het deurdat hy in al sy doen en late goddeloos, verkeerd en verdorwe geword het, al sy voortreflike gawes wat hy van God ontvang het, verloor en hy het niks anders daarvan oorgehou nie as slegs klein oorblyfsels, wat egter genoegsaam is om hom van alle verontskuldiging te ontneem. Al die lig wat ons het, het immers in duisternis verander, soos die Skrif ons leer: 'En die lig skyn in die duisternis en die duisternis het dit nie oorweldig nie' (Joh 1:5), waar die heilige Johannes die mense duisternis noem. Daarom verwerp ons alles wat in stryd hiermee oor die vrye wil van die mens geleer word, aangesien die mens niks anders as 'n slaaf van die sonde is nie en: ''n Mens kan niks aanneem as dit hom nie uit die hemel gegee is nie' (Joh 3:27). Want wie is daar wat daarop sal roem dat hy uit homself iets goeds kan doen, terwyl Christus sê: 'Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie' (Joh 6:44)? Wie sal op sy eie wil roem as hy verstaan dat '\...wat die vlees bedink, vyandskap teen God is' (Rom 8:7)? Wie sal op sy eie kennis roem as die natuurlike mens die dinge van die Gees van God nie aanneem nie (1 Kor 3:5)? Kortom: Wie sal ook maar op 'n enkele gedagte roem as hy verstaan dat ons uit onsself nie bekwaam is om iets uit onsself te bedink nie maar dat ons bekwaamheid uit God is (2 Kor 3:5)? Daarom is dit reg dat wat die apostel sê, onwrikbaar bly, want dit is God wat in julle werk. Hy maak julle gewillig en bekwaam om sy heilige plan uit te voer (Fil 2:13). Want daar is geen verstand en geen wil in ooreenstemming met die verstand en die wil van God as Christus dit nie in die mens tot stand bring nie. Dit leer Hy ons as Hy sê: 'Sonder My kan julle niks doen nie' (Joh 15:5).
1 Pet. 2:9; Pred. 12:7; Ps. 8:5; 49:21; Jes. 59:2; Gen. 3:17,19; Pred. 7:30; Rom. 5:12; Joh. 8:7; Ef. 4:24; Rom. 12:2; 3:10; 8:6; Hand. 14:17; Rom. 1:20-21; Hand. 17:27; Ef. 4:18; 5:8; Joh. 1:5; Ps. 37:9; Jes. 26:12; Ps. 94:11; Rom. 8:3; 1 Kon. 20:9; Ps. 28:8; Jes. 45:25; Joh. 3:27; 6:44; (1 Kor. 2:14); 2 Kor. 3:5; Fil. 2:13.
Ons glo dat die erfsonde deur die ongehoorsaamheid van Adam oor die hele menslike geslag uitgebrei het. Dit is 'n verdorwenheid van die hele natuur en 'n oorgeërfde gebrek waarmee selfs die klein kindertjies in die moederskoot besmet is. Dit is hierdie wortel wat in die mens allerhande sonde laat uitspruit. Dit is daarom so afskuwelik en gruwelik voor God dat dit rede genoeg is om die menslike geslag te verdoem. Dit word selfs nie deur die doop geheel en al tot niet gemaak of volkome uitgeroei nie, aangesien die sonde aanhoudend uit hierdie verdorwenheid opborrel soos water uit 'n giftige fontein. Dit word die kinders van God ewenwel nie tot verdoemenis toegereken nie maar deur sy genade en barmhartigheid vergewe. God vergewe nie sodat die gelowiges in die sonde gerus sou slaap nie maar wel sodat die besef van hierdie verdorwenheid hulle dikwels sou laat sug in die verlange om van hierdie liggaam van die dood verlos te word. Ons verwerp hiermee die dwaling van die Pelagiane, wat sê dat hierdie sonde uit niks anders as uit navolging ontstaan nie.
Ps. 51:7; Rom. 3:10; Joh. 3:6; Gen. 6:3; Ef. 2:5; Job. 14:4; Rom. 5:14; 7:18,19.
Ons glo dat God, toe die hele geslag van Adam deur die sonde van die eerste mens in die verderf en ondergang gestort is, Hom betoon het soos Hy is, naamlik barmhartig en regverdig. God is barmhartig, aangesien Hy dié wat Hy uitverkies het, uit hierdie verderf trek en verlos; God het hulle, uit louter goedheid en sonder om hulle werke in die minste in aanmerking te neem, in sy ewige en onveranderlike raad uitverkies in Jesus Christus, ons Here. God is regverdig deurdat Hy die ander in hulle val en verderf laat bly waarin hulle hulleself gewerp het.
Rom. 3:13; 9:16; Deut. 32:8; 1 Sam. 12:22; Ps. 65:5; Mal. 1:2; 2 Tim. 1:9; Rom. 9:29; Tit. 3:4,5; Ef. 1:4,5; Rom. 11:5; Hand. 2:47; 13:48; 2 Tim. 2:20; Rom. 9:11; 1 Pet. 1:2; Rom. 9:21; Joh. 6:27,44; 17:9,12; Joh. 13:9; 15:16; Rom. 11:34,35; Joh. 18:20; 15:19; Tit. 1:1; Ef. 1:3; Joh. 10:29; Matt. 15:24; 20:23.
Ons glo dat ons goeie God in sy uitnemende wysheid en goedheid die mens weer opgesoek het toe Hy gesien het dat die mens homself in die liggaamlike en geestelike dood gewerp en geheel en al ellendig gemaak en al bewende van Hom weggevlug het. God het die mens toe getroos met die belofte om aan hom sy Seun te gee en hom salig te maak - sy Seun, wat uit 'n vrou (Gal 4:4) gebore sou word om die kop van die slang te vermorsel (Gen 3:15).
Gen. 3:15; 22:18; Jes. 7:14; Joh. 7:42; 2 Tim. 2:8; Heb. 7:14; Joh. 1:14; Gen. 3; Gal. 4:4.
Ons bely dat God die belofte aan die vaders deur die mond van die heilige profete inderdaad vervul het deur sy Seun in die wêreld te stuur op die tyd deur Hom bepaal. Hy het die gestalte van 'n dienskneg aangeneem en aan die mens gelyk geword (Fil 2:7) deur werklik 'n egte menslike natuur, met al sy swakhede maar sonder sonde, aan te neem. Hy is in die liggaam van die geseënde maagd Maria deur die krag van die Heilige Gees en sonder die toedoen van 'n man verwek. Hy het nie alleen wat die liggaam betref, die menslike natuur aangeneem nie, maar ook 'n egte menslike siel om so 'n werklike mens te wees. Want Hy moes sowel die siel as die liggaam aanneem om altwee te red, aangesien albei verlore was. Teenoor die kettery van die Wederdopers, wat ontken dat Christus die menslike vlees uit sy moeder aangeneem het, bely ons daarom dat Christus die vlees en die bloed van die kinders deelagtig geword het (Heb 2:14), dat Hy, wat die vlees betref, 'n nakomeling van Dawid is, as mens gebore is uit die geslag van Dawid (Hand 2:30 en Rom 1:3), 'n vrug van die moederskoot van Maria (Luk 1:42), gebore uit 'n vrou (Gal 4:4), 'n spruit van Dawid (Jer 33:15), 'n loot uit die wortels van Isai (Jes 11:1), van die geslag van Juda afstam (Heb 7:14), uit die Jode as mens gebore (Rom 9:5), uit die geslag van Abraham, aangesien Hy die geslag van Abraham aangeneem het in alle opsigte - maar sonder sonde - aan sy broers gelyk geword het (Heb 2:17 en Heb 4:15). Ons bely inderdaad dat Hy waarlik ons Immanuel is, dit wil sê: God met ons (Matt 1:23).
Fil. 2:7; 1 Tim. 3:16; Luk. 1:55; Gen. 26:4; 2 Sam. 7:12; Ps. 132:11; Hand. 13:23; 1 Tim. 2:5; 1 Kor. 12:3; Deut. 29:2; Ps. 119:34; Rom. 7:19; Jer. 33:15; Heb. 7:14; Rom. 9:5; Gal. 3:16; Heb. 2:16; Matt. 1:16.
Ons glo dat deur hierdie ontvangenis die Persoon van die Seun onafskeidelik met die menslike natuur verenig en verbind is; dat daar dus nie twee Seuns van God of twee persone is nie maar twee nature in een Persoon verenig, terwyl elke natuur nogtans sy onderskeie eienskappe behou. Net soos die Goddelike natuur altyd ongeskape gebly het, sonder begin van dae of lewenseinde (Heb 7:3) en hemel en aarde vervul, só het ook die menslike natuur sy eienskappe nie verloor nie; dit het skepsel gebly, wat wel 'n begin van dae het, eindig van natuur is en alles behou wat by 'n ware liggaam behoort. Hoewel Hy daaraan deur sy opstanding onsterflikheid gegee het, het Hy die egtheid van sy menslike natuur nie verander nie, omdat ons saligheid en ons opstanding ook van die egtheid van sy liggaam afhanklik is. Hierdie twee nature is so saam in een persoon verenig dat hulle selfs deur sy dood nie van mekaar geskei was nie. Dit wat Hy by sy sterwe in die hande van sy Vader oorgegee het, was dus 'n ware menslike gees wat uit sy liggaam uitgegaan het. Die Goddelike natuur het in die tussentyd steeds met die menslike natuur verenig gebly, ook toe Hy in die graf gelê het. Die Godheid het nie opgehou om in Hom te wees nie; dit was in Hom toe Hy 'n klein kindjie was, al het die Godheid Hom toe 'n klein tydjie nie geopenbaar nie. Ons bely daarom dat Hy ware God en ware mens is: ware God om deur sy krag die dood te oorwin, maar ook ware mens om deur die swakheid van sy vlees vir ons te kon sterwe.
Matt. 28:20; Joh. 10:13; Ef. 4:8,12; Heb. 7:3; Matt. 26:11; Hand. 1:11; 3:21; Luk. 24:39; Joh. 20:25; Hand. 1:3; Matt. 27:50.
Ons glo dat God, wat volkome barmhartig en regverdig is, sy Seun gestuur het om die natuur waarin die ongehoorsaamheid begaan is, aan te neem. Hy moes in die menslike natuur aan die geregtigheid voldoen en die straf vir die sondes deur die allerbitterste lyding en sterwe dra. So het God sy regverdigheid teenoor sy Seun betoon toe Hy ons sondelas op Hom gelê het, en só sy goedheid en barmhartigheid uitgestort oor ons, wat skuldig was en die ewige vervloeking verdien het. Hy het immers sy Seun deur die mees volmaakte liefde vir ons in die dood gegee en Hy het Hom tot ons regverdiging opgewek, sodat ons deur Hom die onsterflikheid en die ewige lewe kan hê.
Heb. 2:14; Rom. 8:3,32; 4:25.
Ons glo dat Jesus Christus - kragtens 'n eed - 'n ewige Hoëpriester is volgens die orde van Melgisedek. Hy het Homself in ons naam voor sy Vader gestel om sy toorn met volledige betaling te stil deur Homself aan die kruishout te offer en sy kosbare bloed tot afwassing van ons sondes uit te stort soos die profete dit voorspel het. Want daar staan geskrywe dat 'die straf wat vir ons die vrede aanbring, op die Seun van God was en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom; dat Hy soos 'n lam na die slagpale gelei en by die misdadigers gereken is' (Jes 53:5, 7, 9); dat Hy as 'n misdadiger deur Pontius Pilatus veroordeel is al het dié Hom eers onskuldig verklaar. Hy het teruggegee wat Hy nie geroof het nie (Ps 69:5); Hy het na liggaam en siel as regverdige vir die onregverdiges gely (1 Pet 3:18); Hy het die verskriklike straf wat ons sondes verdien, ervaar, sodat sy sweet soos bloeddruppels geword het wat op die grond val (Luk 22:44) en Hy het uitgeroep: 'My God, my God, waarom het U My verlaat' (Matt 27:26). Dit alles het Hy ter wille van die vergewing van ons sondes gely. Ons sê daarom tereg saam met die apostel Paulus dat ons met julle oor niks praat nie as oor Jesus Christus en wel oor Hom as gekruisigde (1 Kor 2:2); dat ons alles as waardeloos beskou, want om Christus Jesus, ons Here, te ken oortref alles in waarde (Fil 3:8); dat ons volkome vertroosting in sy wonde vind en dat ons nie enige ander middel hoef te soek of uit te dink om ons met God te versoen nie as slegs hierdie offerande wat net een maal gebring is, waardeur die gelowiges vir altyd volmaak word (Heb 10:14). Dit is dan ook die rede waarom Hy deur die engel van God Jesus, dit is Verlosser, genoem is, want Hy sou sy volk van hulle sondes verlos (Matt 1:21).
Ps. 110:4; Heb. 5:10; Rom. 5:8,9; Kol. 2:14; Heb. 2:9,17; Rom. 4:25; Joh. 15:13; Hand. 2:24; Joh. 3:16; Rom. 8:32; 1 Tim. 1:15; Jes. 53:5,7; Heb. 9:14; 1 Pet. 2:24; Matt. 15:28; Joh. 18:38; Ps. 69:5; Eks. 12:6; Ps. 22:16; Dan. 9:26; 1 Kor. 2:2; Rom. 5:6; Fil. 2:8; Heb. 9:12; 1 Pet. 1:18; Joh. 10:9; Heb. 9:25,26; 10:14; Joh. 5:10; Matt. 1:21; Hand. 4:12; Luk. 1:31.
Ons glo dat die Heilige Gees 'n opregte geloof in ons harte laat ontvlam om die ware kennis van hierdie groot geheimenis te verkry. Daar is dus net twee moontlikhede: In Jesus Christus is nie alles wat vir ons saligheid nodig is nie, of dit is alles wél in Hom en dan het hy wat Jesus Christus deur die geloof besit, sy volle saligheid. Om nou te beweer dat Christus nie genoegsaam is nie maar dat daar buite Hom nog iets meer nodig is, sou gruwelike godslastering wees, want dit sou beteken dat Christus slegs 'n halwe Verlosser is. Ons sê daarom tereg saam met Paulus dat ons deur die geloof alleen of deur die geloof sonder die werke geregverdig is (Rom 3:28). Om presies te wees: Ons bedoel nie dat die geloof self ons regverdig maak nie, want die geloof is slegs die middel waardeur ons Christus, ons Geregtigheid, omhels, maar wel dat Jesus Christus ons Geregtigheid is. Hý reken ons sy hele verdienste toe en ook al die heilige werke wat Hy vir ons en in ons plek gedoen het, terwyl die geloof die middel is wat ons in die gemeenskap aan al sy weldade aan Hom verbind. En as die weldade ons eiendom geword het, is hulle meer as genoeg om vryspraak vir ons sondes te verkry.
Ps. 51:8; Ef. 1:17,18; 1 Tess. 1:6; 1 Kor. 2:12; Gal. 2:21; Jer. 23:6; 1 Kor. 1:20; Jer. 51:10; 1 Kor. 15:3; Matt. 1:21; Rom. 8:1; 3:20,28; Gal. 2:16; Heb. 7:19; Rom. 8:29,33; Hand. 13:28; 1 Pet. 1:4; Rom. 10:3,5,9; Luk. 1:77; Tit. 3:5; Ps. 32:1; Rom. 4:5; 3:24,27; Fil. 3:9; 2 Tim. 1:9; Ps. 115:1; 1 Kor. 4:7; Rom. 4:2.
Ons glo dat ons geluksaligheid geleë is in die vergewing van ons sondes om Jesus Christus ontwil en dat ons geregtigheid voor God daarin bestaan. Die leer Dawid en Paulus ons deur te verklaar dat die mens se geluksaligheid daarin bestaan dat God hom die geregtigheid buite die wetsonderhouding om toereken (Ps 32:2 en Rom 4:6). Dieselfde apostel sê dat ons verniet, dit wil sê uit genade, geregverdig is deur die verlossing wat in Jesus Christus is (Rom 3:24). Ons hou daarom hierdie grondslag altyd vas: Ons gee aan God al die eer, verneder ons voor Hom, erken dat ons is wat ons is en roem glad nie in onsself of in ons verdienste nie maar maak staat en steun op die gehoorsaamheid van die gekruisigde Christus alleen. Hierdie gehoorsaamheid is ons eie as ons in Hom glo; dit is ook genoegsaam om al ons ongeregtighede te bedek en die gewete van vrees, verbystering en skrik te bevry en om ons vrymoedigheid te gee om na God te gaan, terwyl ons nie handel soos ons eerste vader, Adam, wat al bewende probeer het om hom met vyeblare te bedek nie. Waarlik, as ons voor God moes verskyn terwyl ons, in watter geringe mate ook al, op onsself of op enige ander skepsel sou staatmaak, sou ons - helaas! - verteer moes word. En daarom moet elkeen saam met Dawid sê: 'En gaan nie na die gereg met u kneg nie, want niemand wat leef, is voor u aangesig regverdig nie' (Ps 143:2).
Heb. 11:7; Ef. 2:8; 2 Kor. 5:19; 1 Tim. 2:6; 1 Joh. 2:1; Gen. 3:7 (Rom. 5:19); Rom. 4:6; Hand. 4:12; Eseg. 36:23,32; Deut. 27:26; Jak. 2:10; Ps. 143:2; Luk. 16:15; Job 1; 1 Kor. 4:4; Ps. 18:28; Sef. 3:11; Heb. 10:20.
Ons glo dat hierdie ware geloof in die mens voortgebring word deur die hoor van die Woord van God en deur die werking van die Heilige Gees, dat die geloof hom wedergebore laat word en tot 'n nuwe mens maak, hom 'n nuwe lewe laat lei en hom van die verslawing van die sonde bevry. Daarom is daar geen sprake van dat hierdie regverdigmakende geloof die mens vir 'n vroom en heilige lewe onverskillig sou maak nie; inteendeel, hy sou daarsonder nooit iets uit liefde tot God doen nie, maar slegs uit liefde tot homself en uit vrees vir die verdoemenis. Dit is daarom onmoontlik dat hierdie heilige geloof niks in die mens tot stand sou bring nie; ons praat mos nie van 'n dooie geloof nie maar van wat die Skrif noem 'n geloof wat tot dade oorgaan (Gal 5:6), wat die mens beweeg om hom voortdurend te oefen in die werke wat deur God in sy Woord beveel het. Hierdie werke is, as hulle uit die goeie wortel van die geloof voortspruit, goed en vir God welgevallig omdat hulle almal deur sy genade geheilig is. Tog geld hierdie werke nie vir ons regverdiging nie, want ons is in die geloof geregverdig nog voordat ons goeie werke doen. Hulle sou anders mos nie goed kon wees nie, net so min as die vrug van 'n boom goed kan wees voordat die boom self goed is. Ons doen dus die goeie werke, maar nie om iets te verdien nie - wat sou ons tog kon verdien? Veeleer is ons goeie werke wat ons doen, aan God verskuldig, terwyl Hy aan ons niks verskuldig is nie, aangesien dit Hy is wat in ons werk. Hy maak ons gewillig en bekwaam om sy heilige plan uit te voer (Fil 2:13). Laat ons daarom let op wat geskrywe staan: '..wanneer julle alles gedoen het wat julle beveel is, sê dan: Ons is onverdienstelike diensknegte, want ons het gedoen wat ons verplig was om te doen' (Luk 17:10). Tog wil ons nie ontken dat God die goeie werke beloon nie, maar dit is deur sy genade dat Hy sy gawes bekroon. Verder, al doen ons ook goeie werke, maak ons dit glad nie die grond van ons saligheid nie, want ons kan geen werk doen wat nie deur ons sondige natuur besmet en ook strafwaardig is nie. En al kon ons ook één goeie werk lewer, is die herinnering aan net een sonde vir God genoeg om dit te verwerp. Op hierdie manier sou ons altyd in twyfel verkeer, heen en weer geslinger sonder enige sekerheid, en ons arme gewete sou altyd gekwel word as dit nie op die verdienste van die lyding en sterwe van ons Verlosser steun nie.
Rom. 10:17; Joh. 5:26; Ef. 2:4; Joh. 8:36; Tit. 2:12; Joh. 15; Heb. 11:6; 1 Tim. 1:5; Gal. 5:6; Tit. 3:8; Rom. 9:32; Tit. 3:5; Matt. 7:17; Rom. 14:23; Heb. 11:4; Gen. 4:4; 1 Kor. 4:7; Fil. 3:13; Jes. 26:12; Gal. 3:5; 1 Tess. 2:13; Luk. 17:10; Rom. 2:6; Op. 2:13; 2 Joh. :8; Rom. 11:5 (6,7); (Ef. 2:5); Jes. 64:6; 1 Kor. 3:11; Jes. 28:26; Rom. 10:11; Hab.2:4.
Ons glo dat die seremonies en heenwysings na die wet met die koms van Christus opgehou het en dat alle voorafskaduwing tot 'n einde gekom het. Die gebruik daarvan moet derhalwe onder die Christene afgeskaf word. Die waarheid en inhoud daarvan bly nogtans vir ons in Christus Jesus bestaan: in Hom het hierdie seremonies en heenwysings juis hulle vervulling. Ons gaan ook nog voort om die getuienisse van die wet en die profete te gebruik om ons in die evangelie te bevestig en ook om ons lewe in alle eerbaarheid tot eer van God en volgens sy wil in te rig.
Rom .10:4; Gal. 3 en 4; Kol. 2:17; 2 Pet. 1:19; 3:2,18.
Ons glo dat ons geen ander toegang tot God het nie as net deur die enigste Middelaar en Voorspraak, Jesus Christus, die Regverdige. Hy het juis hiervoor mens geword en in Hom die Goddelike en menslike natuur verenig, sodat ons, mense, tot die Goddelike majesteit toegang kan hê, anders sou die toegang vir ons gesluit wees. Maar hierdie Middelaar wat die Vader tussen Homself en ons aangestel het, moet ons nie deur sy verhewenheid laat terugdeins sodat ons 'n ander middelaar na ons eie insigte sou soek nie. Want daar is niemand in die hemel of op die aarde onder die skepsels wat vir ons groter liefde het as Jesus Christus nie, Hy ' wat, alhoewel Hy in die gestalte van God was, Homself ontledig het deur vir ons die gestalte van 'n mens en van 'n slaaf aan te neem en aan sy broers in alle opsigte gelyk geword het (Fil 2:6, 7 en Heb 2:17). As ons dus moes soek na 'n ander middelaar wat ons goedgesind sou wees, wie sou ons dan kon vind wat groter liefde vir ons sou hê as Hy wat sy lewe vir ons afgelê het, selfs toe ons nog sy vyande was (Rom 5:8, 10)? En as ons een soek wat mag en aansien het, wie besit meer as Hy wat aan die regterhand van sy Vader sit en alle mag in die hemel en op die aarde het (Matt 28:18)? En wie sal eerder verhoor word as die eie, geliefde Seun van God? Dit is slegs deur gebrek aan vertroue dat hierdie gewoonte posgevat het om die heiliges te onteer in plaas van hulle te vereer. So doen hulle iets wat die heiliges nooit gedoen of gesoek het nie maar wat hulle onophoudelik en pligsgetrou verwerp het, soos dit ook uit hulle skrifte blyk. Hier moet ook nie ingebring word dat ons dit onwaardig is nie. Daar is mos geen sprake van dat ons ons gebede op grond van ons waardigheid voor God bring nie. Ons doen dit alleen op grond van die uitnemendheid en waardigheid van Jesus Christus, want sy geregtigheid is ons geregtigheid deur die geloof. Daarom sê die apostel - wanneer hy hierdie dwase vrees of liewer gebrek aan vertroue van ons wil wegneem - dat Jesus in elke opsig aan sy broers gelyk geword het, sodat Hy 'n barmhartige en getroue Hoëpriester voor God kon wees om die sondes van die volk te versoen. Omdat Hy self versoek is en gely het, kan Hy dié help wat versoek word (Heb 2:17, 18). En om ons nog meer moed te gee, sê die apostel vervolgens: 'Terwyl ons dan 'n groot Hoëpriester het wat deur die hemele deurgegaan het, naamlik Jesus, die Seun van God, laat ons die belydenis vashou. Want ons het nie 'n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde. Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word' (Heb 4:14-16). Dieselfde apostel sê: 'Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus\... laat ons toetree met 'n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid \...' (Heb 10:19, 22). En voorts: 'maar Hy, omdat Hy vir ewig bly, besit 'n priesterskap wat nie op ander oorgaan nie. Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree' (Heb 7:24-25). Wat kom daar dan nog kort, aangesien Christus self sê: 'Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur my nie' (Joh 14:6)? Waarom sal ons 'n ander voorspraak soek, aangesien dit God behaag het om ons sy Seun as Voorspraak te gee? Laat ons Hom geensins verlaat om 'n ander te neem of liewer om 'n ander een te soek sonder om hom ooit te vind nie. Want toe God Hom aan ons gegee het, het Hy goed geweet dat ons sondaars is. Volgens die bevel van Christus roep ons daarom die hemelse Vader aan deur Christus, ons enigste Middelaar, soos dit in die gebed van die Here geleer word; en ons is verseker dat alles wat ons die Vader in sy Naam sal bid, aan ons gegee sal word (Joh 16:23).
1 Tim. 2:5; 1 Joh. 2:1; Rom. 8:26; Deut. 4:24; Gen. 3:10; Eks. 20:19; Jer. 2:33; Jes. 43:22; Hos. 13:9; Luk. 18:19; Ef. 3:20; 1 Joh. 4:10; Ef. 3:19; Fil. 2:7; Joh. 15:13; Matt. 28; Heb. 1:3,7; Jes. 55:1-3; Matt. 11:28; Jak. 5:17; Ps. 115:1; Hand. 14:15; 10:26; Heb. 9:24; Joh. 11:9; Hand. 4:12; 1 Kor. 1:30; Ps. 34:7; Jer. 2:5; Heb. 4:14,16; Jer. 17:5,7; Heb. 2:17,18; 4:14-16; Ef. 2:18; Heb. 10:19; 7:25; Joh. 14:6; Ps. 44:21; 1 Tim. 2:5; 1 Joh. 2:1; Rom. 8:34; Luk. 11:2; Joh. 14:13; Jer. 16:20; Heb. 13:15; Rom. 5:8.
Ons glo en bely 'n enige katolieke of algemene kerk, 'n heilige vergadering van almal wat waarlik in Christus glo, wat almal hulle volle saligheid in Jesus Christus verwag en in sy bloed gewas is, geheilig en verseël deur die Heilige Gees. Hierdie kerk was daar van die begin van die wêreld af en sal tot die einde daar wees, want Christus is 'n ewige Koning, wat nooit sonder onderdane kan wees nie. En hierdie heilige kerk word deur God teen die woede van die hele wêreld bewaar, alhoewel dit soms 'n tyd lank baie klein is en dit in die oë van die mense lyk asof dit tot niet gegaan het - soos die Here vir Hom gedurende die gevaarlike tyd onder Agab sewe duisend mense bewaar het wat die voor Baäl gekniel het nie. Verder is hierdie heilige kerk nie geleë in, gebonde aan of bepaal tot 'n sekere plek of sekere persone nie, maar dit is oor die hele wêreld versprei en verstrooi. Tog is dit met hart en wil en deur die krag van die geloof in een en dieselfde Gees saamgevoeg en verenig.
Ps. 46:6; Jer. 31:36; Ps. 102:14; Matt. 28:20; 2 Sam. 7:16; Luk. 1:32; Ps. 89:37; 110:4; Gen. 22; Rom. 11; 1 Kon. 19:18; 2 Tim. 2:19; Luk. 17:21; Matt. 11:25; Hand. 4:32; Ef. 4:4; 1 Pet. 3:20; Gen. 22:18; Matt. 16:18; Jes. 1:9; Rom. 9:29; Joël 2:32; Hand. 2:21.
Ons glo - aangesien hierdie heilige vergadering 'n versameling is van hulle wat verlos word en daarbuite geen saligheid is nie - dat niemand, wat sy stand en status ook al is, hom in selftevredenheid van hierdie vergadering afsydig mag hou nie; inteendeel, almal is verplig om daarby aan te sluit en hulle daarmee te verenig om die eenheid van die kerk te bewaar deur hulle almal - as lede van een en dieselfde liggaam - aan sy leer en tug te onderwerp, die nek onder die juk van Jesus Christus te buig en volgens die gawes wat God aan elkeen gegee het, die broers in die opbou van hulle geloof te dien. En om dit beter te kan doen, is dit volgens die Woord van God die plig van alle gelowiges om hulle af te skei van hulle wat nie aan die kerk behoort nie en hulle by dié vergadering aan te sluit, waar God dit ook al gevestig het, selfs al sou regerings en wette van regeerders daarteen wees en daarvoor die dood - of lyfstraf oplê. Daarom handel almal wat hulle van hierdie ware kerk afskei of nie daarby aansluit nie, in stryd met die bevel van God.
Ps. 5:6; 22:23; Ef. 4:12; Heb. 2:12; Matt. 24:28; Jes. 49:22; 52:11,12; Hand. 4:17,19; Heb. 10:25; Op. 17:2; Hand. 17:7; 18:13.
Ons glo dat ons sorgvuldig en met groot oplettendheid uit die Woord van God behoort te onderskei watter kerk die ware kerk is, aangesien al die sektes wat daar vandag in die wêreld is, hulle en onregte die naam kerk toeëien. Ons praat hier nie van die huigelaars wat in die kerk met die goeies vermeng is en tog nie aan die kerk behoort nie alhoewel hulle uiterlik daarin is; maar ons sê dat 'n mens die liggaam en die gemeenskap van die ware kerk moet onderskei van al die sektes wat beweer dat hulle die kerk is. Die kenmerke waaraan ons die ware kerk kan uitken, is die volgende: Wanneer die kerk die evangelie suiwer preek, die sakramente suiwer bedien soos Christus dit ingestel het en die kerklike tug gebruik om die sondes te straf - kortom, wanneer almal hulle ooreenkomstig die suiwere Woord van God gedra, alles wat daarmee in stryd is, verwerp en Jesus Christus as die enigste Hoof erken. Hieraan kan ons met sekerheid die ware kerk uitken, en niemand het die reg om hom daarvan af te skei nie. Vervolgens, aangaande die lidmate van die kerk: Ons kan hulle uitken aan die kenmerke van die Christene, naamlik hulle geloof dat hulle die enigste Verlosser Jesus Christus aangeneem het en dat hulle daarna die sonde ontvlug, die geregtigheid najaag, die ware God en hulle naaste liefhet, nie na regs of links afwyk nie en hulle sondige natuur met sy werke kruisig. Hiermee sê ons nie dat daar nie nog groot swakheid in hulle is nie; inteendeel, deur die Gees stry hulle juis al die dae van hulle lewe daarteen, terwyl hulle altyd weer hulle toevlug neem tot die bloed, die dood, die lyding en gehoorsaamheid van die Here Jesus Christus, in wie hulle deur die geloof in Hom vergewing van hulle sondes het. Wat die valse kerk betref: Dit skryf aan homself en sy besluit meer mag en gesag toe as aan die Woord van God; dit wil homself nie aan die juk van Christus onderwerp nie; dit bedien die sakramente nie soos Christus dit in sy Woord beveel het nie, maar neem weg en voeg by na eie goeddunke; dit vertrou meer op mense as op Christus en dit vervolg hulle wat volgens die Woord van God heilig lewe en wat die valse kerk oor sy euwels, gierigheid en afgodery bestraf. Hierdie twee kerke kan maklik uitgeken en van mekaar onderskei word.
Matt. 13; 2; Tim. 2:18-20; Rom. 9:6; Ef. 2:20; Joh. 10:4,14; Matt. 28:20; Gal. 1:8; 1 Kor. 11:20; Kol. 1:23; Hand. 17:11; Joh. 18:37; Ef. 1; Joh. 8:47; 17:20; 1 Joh. 4:2 (en 3:9); Rom. 6:2; Gal. 5:17,24; Rom. 7:5; Kol. 1:12; 2:18,19; Ps.2:3; Op. 2:9; 17:3; Joh. 16:2.
Ons glo dat hierdie ware kerk ooreenkomstig die geestelike bestuurswyse wat ons in die Here ons in sy Woord geleer het, geregeer moet word. Daar is naamlik dienaars of herders wees om die Woord van God te verkondig en die sakramente te bedien; ook ouderlinge en diakens om saam met die herders die kerkraad te vorm. Deur hierdie middel moet hulle sorg dra dat die ware godsdiens onderhou, die ware leer oral versprei, die oortreders op geestelike wyse vermaan en in toom hou en die armes en bedroefdes ook volgens hulle nood gehelp en getroos word. Op hierdie wyse sal alles in die kerk behoorlik en ordelik geskied wanneer betroubare persone gekies word ooreenkomstig die voorskrif wat die apostel Paulus in die brief aan Timoteus gee (1 Tim 3).
1 Kor 4:1, 2; 2 Kor 5:19; Joh 20:23; Hand 26:18; 1 Kor 15:10; Matt 5:14; Luk 10:16; Gal 2:8; Tit 1:5; 1 Tim 3.
Ons glo dat die bedienaars van die Woord van God, die ouderlinge en die diakens tot hulle ampte verkies moet word deur middel van 'n wettige verkiesing deur die kerk, onder aanroeping van die Naam van God en in goeie orde, soos die Woord van God leer. Daarom moet elkeen terdeë daarteen waak om hom met onbehoorlike middele in te dring. Hy moet wag totdat hy deur God geroep word, sodat hy van sy roeping oortuig kan wees en sekerheid kan hê dat dit van God kom.\ Verder, wat die bedienaars van die Woord betref: hulle het, op watter plek hulle ook al mag wees, een en dieselfde mag en gesag, omdat hulle almal dienaars van Jesus Christus is - die enigste algemene Opsiener en die enigste Hoof van die kerk. Verder sê ons, met die oog daarop dat die heilige bevel van God nie verkrag of geminag sal word nie, dat elkeen vir die bedienaars van die Woord en die ouderlinge van die kerk besondere agting moet hê ter wille van die werk wat hulle doen en sover moontlik sonder murmurering, twis of tweedrag in vrede met hulle moet saamleef.
Hand. 6:3,4; 1 Tim. 4:13; Hand. 1:23; 13:2; 1 Tim. 5:22; 1 Kor. 12:28; Rom. 12:8; 1 Tim. 4:14; Matt. 18:26; 1 Kor. 3:8; Rom. 12:7,8; 2 Kor. 5:19; Hand. 26:18; Jes. 61:1; Ef. 1:22; Kol. 1:28; 1 Tess. 5:12,13; Heb. 13:7,17.
Ons glo verder dat die regeerders van die kerk, al is dit nuttig en goed om onder mekaar 'n bepaalde orde tot instandhouding van die liggaam van die kerk in te stel en te handhaaf, tog noukeurig moet oppas om nie af te wyk van wat Christus, ons enigste Meester, vir ons ingestel het nie. En daarom verwerp ons alle menslike versindsels en alle wette wat mense sou wil invoer om God te dien en om, op watter manier ook al, die gewetens daardeur te bind en te dwing. Ons aanvaar derhalwe slegs wat kan dien om eendrag en eenheid te bewaar en te bevorder en om alles in gehoorsaamheid aan God te onderhou. Daarvoor is nodig die ban en alles wat daarmee saamhang, toegepas ooreenkomstig die Woord van God.
1 Kor. 7:17; Kol. 2:6,7; Matt. 15:9; Jes. 29:13; Gal. 5:1; Rom. 16:17,18; Matt. 18:17; 1 Kor. 5:5; 1 Tim. 1:20.
Ons glo dat ons goeie God, omdat hy met ons stompsinnigheid en swakheid rekening hou, die sakramente vir ons ingestel het om sy beloftes aan ons te beseël, om tekens van sy goedheid en genade teenoor ons te wees en om ons geloof te voed en in stand te hou. Hy het dit by die Woord van die evangelie gevoeg om vir ons uitwendige sintuie des te beter voor te stel wat Hy aan ons deur sy Woord te kenne gee en wat Hy inwendig in ons hart doen. So bekragtig Hy in ons die heil wat Hy aan ons meedeel. Dit is immers sigbare tekens en seëls van 'n inwendige en onsigbare saak en deur middel daarvan werk God in ons deur die krag van die Heilige Gees. Die tekens is dus nie sonder sin en sonder inhoud om ons te bedrieg of te mislei nie; hulle waarheid is juis geleë in Jesus Christus, sonder wie hulle geheel en al betekenisloos sou wees. Verder is ons tevrede met die aantal sakramente wat Christus, ons Meester, vir ons ingestel het en wat slegs twee is, naamlik die sakrament van die doop en van die heilige nagmaal van Jesus Christus.
Rom. 4:11; Gen. 9:13; 17:10,11; Eks. 12; Kol. 2:11; 1 Kor. 5:7; Matt. 28:19; 26:26; Rom. 10:9; Kol. 1:11; 1 Pet. 3:20; 1 Kor. 10:2.
Ons glo en bely dat Jesus Christus, wat die einde van die wet is (Rom 10:4), deur sy bloed te stort 'n einde gemaak het aan elke ander bloedvergieting wat 'n mens tot versoening of tot voldoening van sondes sou kan of wil aanwend. Hy het die besnydenis, wat met bloed gepaard gegaan het, afgeskaf en in die plek daarvan die sakrament van die doop ingestel. Deur die doop word ons in die kerk van God opgeneem en van alle ongelowiges en vreemde godsdienste afgesonder om heeltemal sy eiendom te wees en sy merkteken en vaandel te dra. Dit dien vir ons tot 'n getuienis dat Hy ewig ons God en genadige Vader sal wees. Daarom het Hy ons beveel om almal wat sy eiendom is, net met gewone water in die Naam van die Vader en die Seun en die heilige Gees te doop (Matt 28:19). Hy toon ons daarmee dat, soos die water die vuilheid van die liggaam afwas as dit oor ons gegiet word en soos die water op die liggaam van die dopeling gesien word wanneer dit daarop gesprinkel word, so bewerkstellig die bloed van Christus deur die Heilige Gees dieselfde inwendig in die siel: dit besprinkel die siel en reinig dit van sy sondes en laat ons, wat kinders van die toorn is, as kinders van God weergebore word. Dit gebeur nie deur die uitwendige water nie maar wel met die besprinkeling met die kosbare bloed van die Seun van God, ons Rooisee waardeur ons moet trek om aan die slawerny van Farao, dit wil sê die duiwel, te ontkom en in die geestelike land Kanaän in te gaan. Die bedienaars gee ons van hulle kant dus met die sakrament wat sigbaar is, maar die Here gee wat met die sakrament aangedui word, naamlik die onsigbare genadegawes: Hy was ons siel, suiwer en reinig dit van alle vuilheid en ongeregtigheid; Hy maak ons hart nuut en vul dit met alle vertroosting; Hy gee ons egter sekerheid van sy Vaderlike goedheid; Hy beklee ons met die nuwe mens en ontklee ons van die ou mens en al sy werke. Ons glo daarom dat iemand wat tot die ewige lewe wil kom, slegs een maal gedoop moet word sonder om dit ooit te herhaal, want ons kan tog ook nie twee maal gebore word nie. Hierdie doop is nie alleen nuttig solank die water op ons is en en ons dit ontvang nie, maar ook vir ons hele lewe. Daarom verwerp ons die dwaling van die Wederdopers, wat nie tevrede is met die een doop wat hulle een maal ontvang het nie en wat bowendien ook nog die doop van die gelowiges se kindertjies veroordeel. Ons glo daarenteen dat ons hulle behoort te doop en met die teken van die verbond te beseël, net soos die kindertjies in Israel kragtens dieselfde beloftes besny is as wat aan ons kinders gemaak is. En, waarlik, Christus het sy bloed nie minder vir die reiniging van die gelowiges se kindertjies as vir die volwassenes vergiet nie. Daarom behoort hulle die teken en die sakrament te ontvang van wat Christus vir hulle gedoen het, soos die Here in die wet beveel het om hulle kort na die geboorte deel te laat hê aan die sakrament van die lyding en sterwe van Christus deur vir hulle 'n lam te offer, wat 'n sakramentele heenwysing na Jesus was. Buitendien doen die doop aan ons kindertjies dieselfde as wat die besnydenis aan die Joodse volk gedoen het; dit is die rede waarom die heilige Paulus die doop die besnydenis deur Christus noem (Kol 2:11).
Matt. 28:19; 1 Kor. 6:11; Tit. 3:5; Heb. 9:14; 1 Joh. 1:7; (Op. 1:5); 1 Pet. 1:2; 2:24; 1 Joh. 5:16; Joh. 19:34; Matt. 3:11; 1 Kor. 3:7; Rom. 6:3; Ef. 5:26; Hand. 22:16; 1 Pet. 3:21; Gal. 3:27; 1 Kor. 12:13; Ef. 4:5; Heb. 6:1,2; Hand. 8:16; 2:38,41; Matt. 19:14; 1 Kor. 7:14; Gen. 17:11; Kol. 2:11; Lev. 12:6.
Ons glo en bely dat ons Verlosser, Jesus Christus, die sakrament van die heilige nagmaal beveel en ingestel het om hulle te voed en te onderhou wat Hy reeds wederbaar en in sy huisgesin, die kerk, ingelyf het. Nou het dié wat wedergebore is, tweërlei lewe in hulle: die een liggaamlik en tydelik, wat hulle van hulle eerste geboorte saamgebring het en wat alle mense besit; die ander geestelik en hemels, wat aan hulle gegee word in die tweede geboorte, wat deur die woord van die evangelie in die gemeenskap van die liggaam van Christus plaasvind. Almal deel nie in hierdie lewe nie, maar slegs die uitverkorenes van God. So het God tot instandhouding van die liggaamlike en aardse lewe vir ons aardse en gewone brood voorsien; dit dien die lewe en behoort, soos die lewe self, aan almal. Maar om die geestelike en hemelse lewe wat die gelowiges besit, in stand te hou het Hy vir hulle 'n lewende brood gestuur wat uit die hemel neergedaal het, naamlik Jesus Christus; Hy voed en onderhou die geestelike lewe van die gelowiges wanneer Hy geëet, dit wil sê deur die geloof geestelik toegeëien en ontvang word. Om hierdie geestelike brood vir ons af te beeld het Christus aardse en sigbare brood as 'n teken van sy liggaam en wyn as teken van sy bloed in te stel. Hy gee ons daarmee dit te kenne: so waarlik as wat ons die sakrament ontvang en in ons hande hou en dit met ons mond eet en drink en dit daarna in die lewe hou, net so waarlik ontvang ons vir ons geestelike lewe in ons siele deur die geloof - die ware liggaam en die ware bloed van Christus, ons enigste Verlosser. Dit staan dus bo alle twyfel vas dat Jesus Christus nie tevergeefs sy sakramente vir ons voorgeskryf het nie; Hy doen immers in ons alles wat Hy vir ons in hierdie heilige tekens voor oë stel, al gaan dit ons verstand te bowe en is dit vir ons onbegryplik hoe dit gebeur, net soos die werk van die Heilige Gees ondeurgrondelik en onbegryplik is. Tog dwaal ons nie as ons sê dat wat deur ons geëet en gedrink word, die eie en natuurlike liggaam en die eie bloed van Christus is nie; maar die manier waarop ons dit nuttig, is nie met die mond nie maar met die Gees deur die geloof. Daarom, al bly Christus altyd aan die regterhand van sy Vader in die hemel sit, hou Hy tog nie op om ons deur die geloof aan Homself deel te laat hê nie. Hierdie feesmaal is 'n geestelike maaltyd waar Christus Homself met al sy weldade aan ons meedeel en waar Hy ons Homself en die verdienste van sy lyding en sterwe laat geniet. Hy voed, versterk en vertroos ons arme troostelose siel as ons sy liggaam eet en Hy verkwik en herstel dit as ons sy bloed drink. Verder, hoewel die sakramente én die sake waarvan hulle tekens is, bymekaar hoort, word nie beide deur alle mense ontvang nie. Die goddelose ontvang wel die sakrament tot sy verdoemenis, maar hy ontvang nie die waarheid van die sakrament nie. So het Judas en Simon die towenaar albei wel die sakrament ontvang maar nie Christus, wat daardeur voorgestel word nie; Hy ' word slegs aan die gelowiges gegee. Ten slotte, ons ontvang die heilige sakrament in nederigheid en met eerbied in die samekoms van die volk van God, waar ons met danksegging 'n heilige gedagtenis aan die dood van Christus ons Verlosser onderhou en belydenis van ons geloof en van die Christelike godsdiens doen. Daarom behoort niemand daarheen te gaan as hy homself nie eers deeglik ondersoek het nie, sodat hy nie tot sy eie oordeel drink as hy van hierdie brood eet en van hierdie beker drink nie (1 Kor 11:29). Kortom, deur die gebruik van hierdie heilige sakrament word ons tot 'n vurige liefde vir God en ons naaste beweeg. Daarom verwerp ons alle brousels en verwerplike versindsels wat mense by die sakrament bygevoeg en daarmee vermeng het, as onheiligings daarvan. Ons verklaar dat ons tevrede moet wees met die verordening wat Christus en sy apostels ons geleer het en ons sê dieselfde as wat hulle daarvan gesê het.
Matt. 26:26; Mark. 14:17; Luk. 22:19; 1 Kor. 11:24, 28; Joh. 3:6; 10:10; 5:25; 6:48,51,63; 1 Kor. 10:16,27; Ef. 3:17; Joh. 6:35; Hand. 3:21; Mark. 16:14; Matt. 26:11; 1 Kor. 10:3,4; 11:29; Rom. 8:22; 2 Kor. 6:15; 2 Kor. 6:15; 1 Kor. 2:14; Hand. 2:42; 20:7.
Ons glo dat ons goeie God vanweë die verdorwenheid van die menslike geslag konings, vorste en owerhede aangestel het. Dit is immers sy wil dat die wêreld deur middel van wette en regerings geregeer moet word, sodat die losbandigheid van die mense in bedwang gehou kan word en alles onder die mense ordelik kan verloop. Vir dié doel het Hy die owerheid die swaard in die hand gegee om die kwaaddoeners te straf (Rom 13:4) en die deugsames te beskerm. En dit is nie alleen hulle taak om aan die staatsbestuur aandag te gee en daaroor te waak nie maar ook om die heilige Woordbediening te beskerm, om sodoende alle afgodery en valse godsdiens teen te gaan en uit te roei, die ryk van die antichris te vernietig en die koninkryk van Jesus Christus te bevorder, die Woord en die evangelie orals te laat verkondig, sodat God deur elkeen geëer en gedien word soos Hy in sy Woord beveel.\ Verder is elkeen verplig, van watter hoedanigheid, rang of stand hy ook al mag wees, om hom aan die owerhede te onderwerp, belasting te betaal, aan hulle eer en onderdanigheid te bewys, hulle te gehoorsaam in alles wat nie met die Woord van God in stryd is nie en vir hulle voorbidding te doen dat die Here hulle in al hulle handelinge mag bestuur, sodat ons in alle godsvrug en eerbaarheid 'n rustige en stil lewe kan lei (1 Tim 2:2). Hierin verfoei ons die Wederdopers en ander oproerige mense en in die algemeen almal wat die owerheidsgesag en die regeerders wil verwerp en die regsorde omver wil stoot, terwyl hulle die gemeenskaplike besit van goedere invoer en die eerbaarheid wat God onder mense ingestel het, versteur.
Eks. 18:20; Rom. 13:1; Spr. 8:15; Jer. 22:3; Ps. 82; Deut. 1:16; 16:19; 17:16; 2 Kor. 10:6; Ps. 101; Jer. 21:12; Rig. 21:25; Jer. 22:3; Dan. 2:21,22; (5:8); Jes. 49:23; 2 Kron. 23; 1 Kron. 15:12; Rom. 13:1; Luk. 22:1; 1 Pet. 2:17; Tit. 3; Matt. 17:27; Hand. 4:17-19; Hand. 2, 5; Hos. 5:11; Jer. 27:5,2; 2 Pet. 2:10; Jud. 1:10; 1 Tim. 2:2.
Ons glo ten slotte, in ooreenstemming met die Woord van God, dat, wanneer die tyd gekom het wat die Here bepaal het-die tyd is vir alle skepsels onbekend-en die getal uitverkorenes volledig sal wees, ons Here Jesus Christus met groot heerlikheid en majesteit uit die hemel sal kom, liggaamlik en sigbaar, soos Hy opgevaar het, om Homself as Regter oor die lewendes en dooies aan te kondig, terwyl Hy hierdie ou wêreld aan vuur en vlam sal prysgee om dit te suiwer. Dan sal, gedaag deur die stem van die aartsengel en deur die geklank van die basuin van God, alle mense, mans, vrouens en kinders, wat van die begin van die wêreld af tot die einde toe geleef het, persoonlik voor hierdie groot Regter verskyn. Want al die dooies sal uit die aarde opstaan, die siel van elkeen saamgevoeg en verenig met die liggaam waarin hy geleef het. En hulle wat dan nog lewe, sal nie soos die ander sterwe nie maar in 'n oogwink verander en uit verganklikheid onverganklik word. Dan sal die boeke, dit is die gewetens, geopen en die dooies geoordeel word volgens wat hulle in hierdie wêreld gedoen het, of dit goed was of sleg. Ja, die mense sal rekenskap moet gee van elke ligsinnige woord wat hulle gesê het, al beskou die wêreld dit slegs as kinderspel en tydverdryf; en dan sal die geheime bedrog en huigelary van die mense in die openbaar voor almal oopgevlek word. Daarom is die gedagte aan hierdie oordeel vir die oortreders en goddeloses met reg ontsettend en skrikwekkend maar vir die vromes en uitverkorenes begeerlik en troosryk. Want dan sal hulle volle verlossing voltooi word, en hulle sal daar die vrugte ontvang van moeite en lyding wat hulle gedra het. Hulle onskuld sal deur almal erken word en hulle sal die verskriklike wraak sien wat God sal voltrek oor die goddeloses wat hulle in hierdie wêreld wreed vervolg, verdruk en gekwel het. Maar die goddeloses sal deur die getuienis van hulle eie gewete tot erkenning van hulle skuld gebring word; hulle sal onsterflik word dog slegs om gepynig te word in die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is (Matt 25:41). Die gelowiges en uitverkorenes, daarenteen, sal met heerlikheid en eer gekroon word. Die Seun van God sal hulle naam voor God, sy Vader (Matt 10:32), en sy uitverkore engele bely; alle trane sal van hulle oë afgevee word (Op 21:4). Dan sal dit bekend word dat hulle saak, wat tans deur baie regters en owerhede as ketters en goddeloos veroordeel word, die saak van die Seun van God is. En as 'n beloning uit genade sal die Here self hulle so 'n heerlikheid gee as wat die hart van 'n mens nooit sou kon bedink nie. Daarom verwag ons hierdie groot dag met sterk verlange om die beloftes van God in Jesus Christus, ons Here, ten volle te geniet. AMEN
Matt. 13:23; 25:13; 1 Tess. 5:1,2; Matt. 24:36; Op. 6:11; Hand. 1:11; 2 Pet. 3:10; Matt. 24:30; Op. 21:11; Matt. 25:31; Jud. 1:15; 1 Pet. 4:5; 1 Tim. 4:1; 1 Tess. 4:16; 1 Kor. 15:51; Matt. 1:22; Mark. 12:18; Matt. 23:23; Joh. 5:29; Rom. 2:5; Heb. 6:2; 9:27; Matt. 12:36; 2 Tess. 1:5; (Heb. 10:27); 1 Joh. 4:17; Op. 14:7; Luk. 14:14; 2 Kor. 5:10; Op. 21:8; 22:12; Dan. 7; Matt. 25:41; 2 Pet. 2:9; Jes. 25:8; Matt. 10:32; Op. 21:4; Jes. 66:5; 1 Kor. 2:9.
Nadat Luther in 1517 sy 95 stellings aan die kerkdeure in Wittenberg vasgespyker het, het dinge vinnig begin gebeur en het die Kerkhervorming op verskillende plekke in die huidige Europa begin deurbreek en begin om veld te wen.
Die groot probleem was dat al die mense van daardie tyd nog in die Rooms-Katolieke Kerk gebore is en grootgeword het en geleer het uit hierdie Kerk se leer. Dit was dus dringend noodsaaklik vir die Kerkhervormers om kort en eenvoudige samevattings van die hoofpunte van die suiwer Christelike leer wat uit die Bybel geput is, op te stel en om die lidmate daaruit op te voed in die regte kennis en vrees van die Almagtige en van sy saligmakende Woord as die enigste fondament van alle deugde en gehoorsaamheid. As gevolg hiervan het daar talle kategismusse, van sowel Lutherse as Calvinistiese oorsprong, ontstaan. Rondom die ontstaan van die Heidelbergse Kategismus was die twee kategismusse wat Leo die Jood in 1534 en 1535 vir gebruik in Zürich opgestel het en dié van Bullinger, in 1561 vir dieselfde stad opgestel, belangrik; so ook Calvyn se kategismus vir gebruik in Genève van 1545 en die twee Londense kategismusse wat onderskeidelik deur Johannes Lasco en Marten Micron in 1551 en 1552 opgestel is, asook die kategismus wat in Emden, in Oos-Friesland, gebruik is en hoofsaaklik die werk van Lasco was.
Destyds was daar in die gebied wat ons vandag Duitsland noem 'n hele paar Calvinistiese gebiede, onder andere die gebied van die Palts met die hoofstad Heidelberg wat vandag nog bekend is. Die regeerder daarvan was toe die keurvors Frederik III, wat sy regeeramp op dié wyse gesien het dat hy nie net vir die rus, vrede, orde en die deugsame wandel van sy onderdane moes sorg nie, maar ook vir die regte kennis en vrees van die Almagtige en van sy Woorde. By die volk wat onder die pousdom sonder kategismus opgegroei het, het keurvors Frederik allerlei verkeerdhede, misverstand en onordelikheid bespeur, en dit het hy toegeskryf aan die feit dat hulle geen eendragtige onderwysing uit 'n eenstemmige kategismus gehad het nie.
Daarom het hy die inisiatief geneem en aan ons hele Teologiese Fakulteit alhier en aan al die superintendente en vernaamste kerkdienaars opdrag gegee om 'n opsommende onderrig oftewel 'n Kategismus van ons Christelike Godsdiens uit die Woord van God op te stel; in sowel die Duitse as die Latynse taal. Die hoogleraar Zacharias Ursinus het met die oog op die opstelling van 'n nuwe kategismus self twee kategismusse opgestel, sy Groot Kategismus en sy Klein Kategismus. Die werkkomitee waarin hy 'n aktiewe rol moes gespeel het, het in die opstelling van die Heidelbergse Kategismus ruim gebruikgemaak van hierdie twee kategismusse en ook van die sewe Calvinistiese kategismusse wat ons vroeër genoem het. Hulle kon dus op die skouers staan van die opstellers van vroeëre kategismusse en hulle kon van hierdie mense se arbeid, insigte en ervaring gebruikmaak. Olevianus gee dan ook erkenning hieraan wanneer hy in April 1563 in verband met die Heidelbergse Kategismus aan Bullinger skryf en sê dat die Heidelberger se helderheid grotendeels aan Bullinger te danke is en aan die blinkende vernuf van die Switsers. Die Heidelbergse Kategismus is ook vergelyk en krities afgegrens teen die Roomse en Lutherse kategismusse. Een opvallende verskil met die Lutherse kategismusse was dan dat dit die Tien Gebooie uitgelê het, nie onder die leerstuk van die kennis van ons sonde nie, maar saam met die Ons Vader onder die leerstuk van die dankbaarheid.
Nadat 'n groot kerkvergadering agt dae lank die opgestelde kategismus grondig bespreek en seker ook gewysig het, het die afgevaardigdes die kategismus byna eenstemmig aanvaar. Op Sondag 17 Januarie 1563 het hulle tot meerdere bevestiginge Nagmaal gevier; die volgende dag het keurvors Frederik hulle toegespreek, en op Dinsdag 19 Januarie 1563 is dit offisieel te Heidelberg onderteken, waarna dit in die skole, kategese en erediens gebruik is.
Baie gou het ook ander gebiede die uitmuntende kwaliteite van die Heidelbergse Kategismus besef en dit as leerboek aanvaar.
Die Nederlandse vertaling van Petrus Datheen het via Nederland ook na ons land gekom. Vir byna al die jare was die Kategismus óf die direkte bron óf die basis van die kategetiese onderrig van ons kerke, en ons gebruik dit vandag nog in ons kategismusprediking.
Vraag 1: Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?
Antwoord: Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe (a) nie aan myself (b) nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus, behoort (c). Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal (d) en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos (e). Hy bewaar (f) my op so 'n wyse dat, sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie (g). Alles moet inderdaad tot my saligheid dien (h). Daarom verseker (i) Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe (j).
(a) Rom 14: 8. (b) 1 Kor 6: 19. (c) 1 Kor 3: 22; Tit 2: 14. (d) 1 Pet 1: 18, 19; 1 Joh 1: 7; 2: 2, 12. (e) Heb 2: 14; 1 Joh 3: 8; Joh 8: 34-36. (f) Joh 6: 3; 10: 28; 2 Tess 3: 3; 1 Pet 1: 5. (g) Matt 10: 30; Luk 21: 18. (h) Rom 8: 28. (i) 2 Kor 1: 22; 5: 5; Ef 1: 14; Rom 8: 16. (j) Rom 8: 14; 1 Joh 3: 3.
Vraag 2: Hoeveel dinge moet jy weet om in hierdie troos salig te kan lewe en sterwe?
Antwoord: Drie dinge (a): eerstens, hoe groot my sonde en ellende is (b); tweedens, hoe ek van al my sonde en ellende verlos word; (c) en derdens, hoe ek God vir so 'n verlossing dankbaar moet wees (d).
(a) Matt 11: 28-30; Ef 5: 8. (b) Joh 9: 41; Matt 9: 12; Rom 3: 10; 1 Joh 1: 9, 10. (c) Joh 17; Hand 4: 12; 10: 43. (d) Ef 5: 10; Ps 50: 14; Matt 5: 16; 1 Pet 2: 12; Rom 6: 13; 2 Tim 2: 15.
Vraag 3: Waaruit ken jy jou ellende?
Antwoord: Uit die wet van God (a).
(a) Rom 3: 20.
Vraag 4: Wat eis die wet van God van ons?
Antwoord: Dit leer Christus ons samevattend in Matteus 22: 37-40: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod. En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: 'Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.' In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat (a).
(a) Deut 6: 5; Lev 19: 18; Mark 12: 30; Luk 10: 27.
Vraag 5: Kan jy dit alles ten volle nakom?
Antwoord: Nee (a), want ek is van nature geneig om God en my naaste te haat (b).
(a) Rom 3: 10, 20, 23; 1 Joh 1: 8, 10. (b) Rom 8: 7; Ef 2: 3; Tit 3: 3; Gen 6: 5; 8: 21; Jer 17: 9; Rom 7: 23.
Vraag 6: Het God die mens dan so sondig en verkeerd geskep?
Antwoord: Nee, God het die mens goed (a) en na sy ewebeeld geskep (b). Dit beteken: in ware geregtigheid en heiligheid, sodat hy God sy Skepper reg kon ken, Hom van harte kon liefhê en saam met Hom in die ewige saligheid kon lewe om Hom te loof en te prys (c).
(a) Gen 1: 31. (b) Gen 1: 26, 27. (c) Ef 4: 24; Kol 3: 10; 2 Kor 3: 18.
Vraag 7: Waar kom hierdie verdorwe natuur van die mens dan vandaan?
Antwoord: Van die val en ongehoorsaamheid van ons eerste ouers, Adam en Eva, in die paradys (a). Daar het ons natuur so verdorwe geraak dat ons almal in sonde ontvang en gebore word (b).
(a) Gen 3; Rom 5: 12, 18, 19. (b) Ps 51: 7; Gen 5: 3.
Vraag 8: Is ons so verdorwe dat ons glad nie in staat is om iets goeds te doen nie en tot alle kwaad geneig is?
Antwoord: Ja (a), behalwe as ons deur die Gees van God weergebore word (b).
(a) Gen 8: 21; 6: 5; Job 14: 4; 15: 14, 16, 35; Joh 3: 6; Jes 53: 6. (b) Joh 3: 3, 5; 1 Kor 12: 3; 2 Kor 3: 5.
Vraag 9: Doen God die mens dan nie onreg aan as Hy in sy wet van hom eis wat hy tog nie kan doen nie?
Antwoord: Nee (a), want God het die mens so geskep dat hy dit kon doen (b). Maar die mens het homself en sy hele nageslag as gevolg van die aanhitsing van die duiwel (c) en deur moedswillige ongehoorsaamheid van hierdie gawes beroof.
(a) Ef 4: 24. (b) Gen 3: 13; 1 Tim 2: 13, 14. (c) Gen 3: 6; Rom 5: 12.
Vraag 10: Wil God hierdie ongehoorsaamheid en afval ongestraf laat bly?
Antwoord: Nee, glad nie. Inteendeel, sy toorn is verskriklik, (a) sowel oor die erfsonde as oor die sonde wat ons self doen. Hy wil dit in die tyd en in die ewigheid met 'n regverdige oordeel straf (b). Hy het immers gesê: Vervloek is elkeen wat nie stiptelik alles doen wat in die boek van die wet geskrywe staan nie (c).
(a) Gen 2: 17; Rom 5: 12. (b) Ps 50: 21; 5: 6; Nah 1: 2; Eks 20: 5; 34: 7; Rom 1: 18; Ef 5: 6. (c) Deut 27: 26; Gal 3: 10.
Vraag 11: Is God dan nie ook barmhartig nie?
Antwoord: God is wel barmhartig (a), maar Hy is ook regverdig (b). Daarom eis sy geregtigheid dat die sonde wat teen die allerhoogste majesteit van God gedoen is, ook met die swaarste straf gestraf moet word -- dit is met die ewige straf aan liggaam en siel.
(a) Eks 34: 6, 7; 20: 6. (b) Ps 7: 10; Eks 20: 5; 23: 7; 34: 7; Ps 5: 5, 6; Nah 1: 2, 3.
Vraag 12: Aangesien ons volgens die regverdige oordeel van God in die tyd en in die ewigheid straf verdien het, hoe kan ons van hierdie straf bevry en weer in genade aangeneem word?
Antwoord: God wil dat daar aan sy geregtigheid voldoen word (a). Daarom moet ons óf deur onsself óf deur 'n ander ten volle betaal (b).
(a) Gen 2: 27; Eks 23: 7; Eseg 18: 4; Matt 5: 26; 2 Tess 1: 6; Luk 16: 2. (b) Rom 8: 4.
Vraag 13: Kan ons deur onsself betaal?
Antwoord: Nee, glad nie; ons maak juis ons skuld elke dag nog groter (a).
(a) Job 9:2; 15:15, 16; 4:18, 19; Ps 130:3; Matt 6:12; 18:25; 16:26.
Vraag 14: Kan enige ander skepsel vir ons betaal?
Antwoord: Nee, want eerstens wil God aan geen ander skepsel die skuld straf wat die mens gemaak het nie (a). Tweedens kan geen gewone skepsel die las van die ewige toorn van God teen die sonde dra en ander skepsels daarvan verlos nie (b).
(a) Eseg 18: 4; Gen 3: 17. (b) Nah 1: 6; Ps 130: 3.
Vraag 15: Hoe 'n middelaar en verlosser moet ons dan soek?
Antwoord: So een wat 'n ware (a) en regverdige (b) mens is, maar nogtans ook sterker as alle skepsels is, dit wil sê wat terselfdertyd ware God is (c).
(a) 1 Kor 15: 21. (b) Heb 7: 26. (c) Jes 7: 14; 9: 5; Jer 23: 6; Luk 11: 22.
Vraag 16: Waarom moet hy 'n ware en regverdige mens wees?
Antwoord: Omdat die geregtigheid van God eis dat die menslike natuur wat gesondig het, vir die sonde moet betaal (a). Maar die mens wat self sondaar is, kan nie vir ander betaal nie (b).
(a) Eseg 18: 4, 20; Rom 5: 18; 1 Kor 15: 21; Heb 2: 14-16. (b) Heb 7: 26, 27; Ps 49: 8; 1 Pet 3: 18.
Vraag 17: Waarom moet hy terselfdertyd ware God wees?
Antwoord: Om deur die krag van sy Godheid (a) die las van die toorn van God (b) in sy mensheid te kon dra (c) en vir ons die geregtigheid en die lewe te kan verwerf en teruggee (d).
(a) Jes 9: 5; 63: 3. (b) Deut 4: 24; Nah 1: 6; Ps 130: 3. (c) Jes 53: 4, 11. (d) Jes 53: 5, 11.
Vraag 18: Wie is hierdie Middelaar wat terselfdertyd ware God (a) en ware (b) regverdige mens is (c)?
Antwoord: Ons Here Jesus Christus (d), wat God vir ons tot wysheid, geregtigheid, heiligmaking en volkome verlossing gegee het (e).
(a) 1 Joh 5: 20; Rom 9: 5; 8: 3; Gal 4: 4; Jes 9: 6; Jer 23: 6; Mal 3: 1. (b) Luk 1: 42; 2: 6, 7; Rom 1: 3; 9: 5; Fil 2: 7; Heb 2: 14, 16, 17; 4: 15. (c) Jes 53: 9, 11; Jer 23: 5; Luk 1: 35; Joh 8: 46; Heb 4: 15; 7: 26; 1 Pet 1: 19; 2: 22; 3: 18. (d) 1 Tim 2: 5; Matt 1: 23; 1 Tim 3: 16; Luk 2: 11; Heb 2: 9. (e) 1 Kor 1: 30.
Vraag 19: Waaruit weet jy dit?
Antwoord: Uit die heilige evangelie, wat God self aanvanklik in die paradys bekend gemaak het (a). Daarna het Hy dit deur die heilige aartsvaders (b) en profete (c) laat verkondig en deur die offers en ander seremonies van die wet laat uitbeeld (d). Eindelik het Hy dit deur sy eniggebore Seun vervul (e).
(a) Gen 3: 15. (b) Gen 22: 18; 12: 3; 49: 10. (c) Jes 53; 42: 1-4; 43: 25; 49: 5, 6, 22, 23; Jer 23: 5, 6; 31: 32, 33; 32: 39-41; Mig 7: 18-20; Hand 10: 43; 3: 22-24; Rom 1: 2; Heb 1: 1. (d) Heb 10: 1, 7; Kol 2: 7; Joh 5: 46. (e) Rom 10: 4; Gal 4: 4; 3: 24; Kol 2: 17.
Vraag 20: Word al die mense dan weer deur Christus salig soos hulle deur Adam verlore gegaan het?
Antwoord: Nee (a), maar slegs dié wat deur 'n ware geloof in Hom ingelyf word en al sy weldade aanneem (b).
(a) Matt 7: 14; 22: 14. (b) Mark 16: 16; Joh 1: 12; 3: 16, 18, 36; Jes 53: 11; Ps 2: 12; Rom 11: 20; 3: 22; Heb 4: 3; 5: 9; 10: 39; 11: 6.
Vraag 21: Wat is 'n ware geloof?
Antwoord: 'n Ware geloof is nie alleen 'n vasstaande kennis waardeur ek alles wat God in sy Woord aan ons geopenbaar het (a) vir waar aanvaar nie, maar ook 'n vaste vertroue (b) wat die Heilige Gees (c) deur die evangelie in my hart werk (d), naamlik dat God nie net aan ander nie, maar ook aan my uit loutere genade, slegs op grond van die verdienste van Christus (e), vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid (f) geskenk het.
(a) Jak 2: 19. (b) Heb 11: 1, 7; Rom 4: 18-21; 10: 10; Ef 3: 12; Heb 4: 16; Jak 1: 6. (c) Gal 5: 22; Matt 16: 17; 2 Kor 4: 13; Joh 6: 29; Ef 2: 8; Fil 1: 19; Hand 16: 14. (d) Rom 1: 16; 10: 17; 1 Kor 1: 21; Hand 10: 44; 16: 14. (e) Ef 2: 8; Rom 3: 24; 5: 19; Luk 1: 77, 78. (f) Rom 1: 17; Gal 3: 11; Heb 10: 10, 38; Gal 2: 16.
Vraag 22: Wat moet 'n Christen glo?
Antwoord: Alles wat in die evangelie aan ons beloof word (a) en wat die artikels van ons algemene en ongetwyfelde Christelike geloof ons in hoofsaak leer.
(a) Joh 20: 31; Matt 28: 19; Mark 1: 15.
Vraag 23: Hoe lui die artikels?
Antwoord: (1) Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde. (2) En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here; (3) wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria; (4) wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en neergedaal het na die hel; (5) wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode; (6) wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader, (7) van waar Hy sal kom om te oordeel, dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het. (8) Ek glo in die Heilige Gees. (9) Ek glo aan 'n heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges; (10) die vergewing van sondes; (11) die opstanding van die vlees (12) en 'n ewige lewe.
Vraag 24: Hoe word hierdie artikels ingedeel?
Antwoord: In drie dele: die eerste handel oor God die Vader en ons skepping; die tweede oor God die Seun en ons verlossing; die derde oor God die Heilige Gees en ons heiligmaking.
Vraag 25: Terwyl daar maar tog net een, enige Goddelike wese is, waarom praat jy van drie, naamlik die Vader, Seun en Heilige Gees (a)?
Antwoord: Omdat God Hom so in sy Woord geopenbaar het (b) dat hierdie drie onderskeie Persone die enige, ware en ewige God is.
(a) Deut 6: 4; Ef 4: 6; Jes 44: 6; 45: 5; 1 Kor 8: 4, 6. (b) Jes 61: 1; Luk 4: 18; Gen 1: 2, 3; Ps 33: 6; Jes 48: 16; Matt 3: 16, 17; 28: 19; Jes 6: 1, 3; Joh 14: 26; 15: 26; 2 Kor 13: 13; Gal 4: 6; Ef 2: 18; Tit 3: 5, 6.
Vraag 26: Wat glo jy as jy sê: Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde?
Antwoord: Ek glo dat die ewige Vader van ons Here Jesus Christus wat die hemel en aarde met alles wat daarin is, uit niks geskep het (a) en deur sy ewige raad en voorsienigheid nog onderhou en regeer (b), ter wille van sy Seun Christus, my God en Vader is (c). Op Hom vertrou ek so dat ek nie daaraan twyfel dat Hy my, met alles wat vir liggaam en siel nodig is, sal versorg nie (d). Hy sal ook al die kwaad wat Hy in hierdie jammerdal oor my beskik, tot my beswil verander (e), omdat Hy dit as 'n almagtige God kan (f) en ook as 'n getroue Vader wil doen (g).
(a) Gen 1 en 2; Eks 20: 11; Job 33: 4, 38, 39; Hand 4: 24; 14: 15; Ps 33: 6; Jes 45: 7. (b) Heb 1: 3; Ps 104: 27-30; 115: 3; Matt 10: 29; Ef 1: 11. (c) Joh 1: 12; Rom 8: 15; Gal 4: 5-7; Ef 1: 5. (d) Ps 55: 23; Matt 6: 25, 26; Luk 12: 22. (e) Rom 8: 28. (f) Jes 46: 4; Rom 10: 12. (g) Matt 6: 32, 33; 7: 9-11.
Vraag 27: Wat verstaan jy onder die voorsienigheid van God?
Antwoord: Die almagtige en oral teenwoordige krag (a), waardeur Hy hemel en aarde en al die skepsels asof met sy hand nog onderhou en so regeer (b) dat lower en gras, reën en droogte (c), vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte (d), rykdom en armoede (e) en alles, ons nie per toeval nie, maar uit sy Vaderhand toekom (f).
(a) Hand 17: 25-28; Jer 23: 23, 24; Jes 29: 15, 16; Eseg 8: 12. (b) Heb 1: 3. (c) Jer 5: 24; Hand 14: 17. (d) Joh 9: 3. (e) Spr 22: 2. (f) Matt 10: 29; Spr 16: 33.
Vraag 28: Wat baat dit ons dat ons weet dat God alles geskep het en dit nog deur sy voorsienigheid onderhou?
Antwoord: Dat ons in alle teëspoed geduldig (a) en in voorspoed dankbaar (b) kan wees. Verder dat ons ook vir die toekoms 'n vaste vertroue in ons getroue God en Vader (c) kan stel, dat geen skepsel ons van sy liefde sal skei nie (d) aangesien alle skepsels só in sy hand is dat hulle sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie (e).
(a) Rom 5: 3; Jak 1: 3; Ps 39: 10; Job 1: 21, 22. (b) 1 Tess 5: 18; Deut 8: 10. (c) Ps 55: 23; Rom 5: 4. (d) Rom 8: 38, 39. (e) Job 1: 12; 2: 6; Spr 21: 1; Hand 17: 25.
Vraag 29: Waarom word die Seun van God genoem: Jesus, wat Verlosser beteken?
Antwoord: Omdat Hy ons van al ons sondes verlos (a), en by niemand anders enige saligheid te soek of te kry is nie (b).
(a) Matt 1: 21; Heb 7: 25. (b) Hand 4: 12; Joh 15: 4, 5; 1 Tim 2: 5; Jes 43: 11; 1 Joh 5: 11.
Vraag 30: Glo die mense wat hulle saligheid en heil by die heiliges, by hulleself of iewers anders soek, ook in die enigste Verlosser, Jesus?
Antwoord: Nee, maar hulle verloën met die daad die enigste Verlosser as Heiland, Jesus, alhoewel hulle met die mond in Hom roem (a). Slegs een van twee dinge is immers moontlik: óf Jesus is nie 'n volkome Verlosser nie óf dié wat hierdie Verlosser met 'n ware geloof aanneem, het in Hom alles wat vir hulle saligheid nodig is (b).
(a) 1 Kor 1: 13, 30, 31; Gal 5: 4. (b) Heb 12: 2; Jes 9: 6; Kol 1: 19, 20; 2: 10; 1 Joh 1: 7.
Vraag 31: Waarom word Hy Christus, wat Gesalfde beteken, genoem?
Antwoord: Omdat Hy deur God die Vader bestem en aangestel en met die Heilige Gees gesalf is (a) tot ons hoogste Profeet en Leraar (b), wat aan ons die verborge raad en wil van God aangaande ons verlossing ten volle bekendgemaak het (c); tot ons enigste Hoëpriester (d), wat ons met die enige offer van sy liggaam verlos het (e) en met sy voorbidding gedurigdeur by die Vader vir ons intree (f); tot ons ewige Koning, wat ons met sy Woord en Gees regeer en ons by die verlossing wat verwerf is, beskerm en bewaar (g).
(a) Ps 45: 8; Heb 1: 9; Jes 61: 1; Luk 4: 18. (b) Deut 18: 15; Hand 3: 22; 7: 37; Jes 55: 4. (c) Joh 1: 18; 15: 15. (d) Ps 110: 4. (e) Heb 10: 12, 14; 9: 12, 14, 28. (f) Rom 8: 34; Heb 9: 24; 1 Joh 2: 1; Rom 5: 9, 10. (g) Ps 2: 6; Sag 9: 9; Matt 21: 5; Luk 1: 33; Matt 28: 18; Joh 10: 28; Op 12: 10, 11.
Vraag 32: Waarom word jy 'n Christen genoem (a)?
Antwoord: Omdat ek deur die geloof 'n lid van Christus is (b) en daardeur deel aan sy salwing het (c) sodat ek sy Naam kan bely (d), myself as 'n lewende dankoffer aan Hom kan toewy (e) en in hierdie lewe met 'n vrye gewete teen die sonde en die duiwel kan stry (f) en hierna met Christus in ewigheid oor alle skepsels kan regeer (g).
(a) Hand 11: 26. (b) 1 Kor 6: 15. (c) 1 Joh 2: 27; Hand 2: 17. (d) Matt 10: 32; Rom 10: 10. (e) Rom 12: 1; 1 Pet 2: 5, 9; Op 1: 6; 5: 8, 10. (f) 1 Pet 2: 11; Rom 6: 12, 13; Gal 5: 16, 17; Ef 6: 11; 1 Tim 1: 18, 19. (g) 2 Tim 2: 12; Matt 25: 34.
Vraag 33: Waarom word Christus die eniggebore Seun van God genoem, terwyl ons tog ook kinders van God is?
Antwoord: Omdat alleen Christus die ewige natuurlike Seun van God is (a), terwyl ons om sy ontwil uit genade tot kinders van God aangeneem is (b).
(a) Joh 1: 14; Heb 1: 1, 2; Joh 3: 16; 1 Joh 4: 9; Rom 8: 32. (b) Rom 8: 16; Joh 1: 12; Gal 4: 6; Ef 1: 5, 6.
Vraag 34: Waarom noem jy Hom ons Here?
Antwoord: Omdat Hy ons na liggaam en siel van die sondes en uit alle heerskappy van die duiwel nie met goud of silwer nie, maar met sy kosbare bloed tot sy eiendom verlos en vrygekoop het (a).
(a) 1 Pet 1: 18, 19; 2: 9; 1 Kor 6: 20; 1 Tim 2: 6; Joh 20: 28.
Vraag 35: Wat beteken: wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria?
Antwoord: Dat die ewige Seun van God, wat ware en ewige God is (a) en bly (b), die ware menslike natuur uit die vlees en bloed van die maagd, Maria (c), deur die werking van die Heilige Gees aangeneem het (d). So is Hy tegelykertyd die ware nakomeling van Dawid, (e) in alles aan sy broers gelyk (f), behalwe die sonde (g).
(a) 1 Joh 5: 20; Joh 1: 1; 17: 3; Rom 1: 3; Kol 1: 15. (b) Rom 9: 5. (c) Gal 4: 4; Luk 1: 31, 42, 43. (d) Matt 1: 20; Luk 1: 35. (e) Rom 1: 3; Ps 132: 11; 2 Sam 7: 12; Luk 1: 32; Hand 2: 30. (f) Fil 2: 7; Heb 2: 14, 17. (g) Heb 4: 15.
Vraag 36: Watter nut verkry jy uit die heilige ontvangenis en geboorte van Christus?
Antwoord: Dat Hy ons Middelaar is (a), en met sy onskuld en volkome heiligheid my sonde waarin ek ontvang en gebore is, voor God bedek (b).
(a) Heb 7: 26, 27. (b) 1 Pet 1: 18, 19; 3: 18; 1 Kor 1: 30, 31; Rom 8: 3, 4; Jes 53: 11; Ps 32: 1.
Vraag 37: Wat verstaan jy onder die woordjie: gely?
Antwoord: Dat Christus na liggaam en siel tydens sy hele lewe op aarde, maar veral aan die einde daarvan, die toorn van God teen die sonde van die hele menslike geslag gedra het (a). So het Hy met sy lyding as die enigste versoeningsoffer (b) ons liggaam en siel van die ewige verdoemenis verlos (c) en vir ons die genade van God, die geregtigheid en die ewige lewe verwerf (d).
(a) Jes 53: 4; 1 Pet 2: 24; 3: 18; 1 Tim 2: 6. (b) Jes 53: 10; Ef 5: 2; 1 Kor 5: 7; 1 Joh 2: 2; Rom 3: 25; Heb 9: 28; 10: 14. (c) Gal 3: 13; Kol 1: 13; Heb 9: 12; 1 Pet 1: 18, 19. (d) Rom 3: 25; 2 Kor 5: 21; Joh 3: 16; 6: 51; Heb 9: 15; 10: 19.
Vraag 38: Waarom het Hy onder die regter Pontius Pilatus gely?
Antwoord: Sodat Hy onskuldig deur die wêreldlike regter veroordeel sou word (a) en ons daardeur sou bevry van die streng oordeel van God wat oor ons moes kom (b).
(a) Joh 18: 38; Matt 27: 24; Luk 23: 14, 15; Joh 19: 4. (b) Ps 69: 5; Jes 53: 4, 5; 2 Kor 5: 21; Gal 3: 13.
Vraag 39: Sit daar iets meer in dat Christus juis gekruisig is en nie op 'n ander manier gesterf het nie?
Antwoord: Ja, want daardeur is ek seker dat Hy die vervloeking wat op my gerus het, op Hom geneem het (a) omdat die kruisdood deur God vervloek is (b).
(a) Gal 3: 13. (b) Deut 21: 23.
Vraag 40: Waarom was dit noodsaaklik dat Christus Hom tot in die dood toe verneder het?
Antwoord: Weens die geregtigheid en waarheid van God (a) kon nie anders as deur die dood van die Seun van God vir ons sondes betaal word nie (b).
(a) Gen 2: 17. (b) Rom 8: 3, 4; Heb 2: 14, 15.
Vraag 41: Waarom is Hy begrawe?
Antwoord: Om daarmee die versekering te gee dat Hy werklik gesterf het (a).
(a) Hand 13: 29; Matt 27: 59, 60; Luk 23: 53; Joh 19: 38.
Vraag 42: As Christus dan vir ons gesterf het, waarom moet ons ook nog sterwe?
Antwoord: Ons dood is nie 'n betaling vir ons sondes nie (a), maar slegs 'n afsterwe van die sondes en 'n deurgang tot die ewige lewe (b).
(a) Mark 8: 37; Ps 49: 8. (b) Fil 1: 23; Joh 5: 24; Rom 7: 24.
Vraag 43: Watter nut verkry ons nog verder uit die offer en dood van Christus aan die kruis?
Antwoord: Deur sy krag word ons ou mens saam met Hom gekruisig, gedood en begrawe (a). Gevolglik kan ons sondige begeertes nie meer oor ons heers nie (b), maar kan ons onsself as 'n dankoffer aan Hom toewy (c).
(a) Rom 6: 6. (b) Rom 6: 6, 12. (c) Rom 12: 1.
Vraag 44: Waarom volg daar: wat neergedaal het na die hel?
Antwoord: Sodat ek in my swaarste aanvegtinge verseker kan wees en myself volkome kan vertroos dat my Here Jesus Christus my van die helse benoudheid en pyn verlos het (a). Hierdie verlossing het Hy bewerk deur sy onuitspreeklike angs, smarte en verskrikking (b) wat Hy ook aan sy siel deur sy hele lewe, maar veral aan die kruis gely het.
(a) Jes 53: 5. (b) Ps 18: 5, 6; 116: 3; Matt 26: 38; 27: 46; Heb 5: 7.
Vraag 45: Watter nut het die opstanding van Christus vir ons?
Antwoord: Eerstens het Hy deur sy opstanding die dood oorwin, sodat Hy ons die geregtigheid wat Hy deur sy dood verwerf het, deelagtig kon maak (a). Tweedens word ons nou ook deur sy krag tot 'n nuwe lewe opgewek (b). Derdens is die opstanding van Christus vir ons 'n betroubare waarborg van ons salige opstanding (c).
(a) Rom 4: 25; 1 Pet 1: 3; 1 Kor 15: 16. (b) Rom 6: 4; Kol 3: 1, 5; Ef 2: 5, 6. (c) 1 Kor 15: 20, 21.
Vraag 46: Wat verstaan jy onder: wat opgevaar het na die hemel?
Antwoord: Christus is voor die oë van sy dissipels van die aarde af na die hemel opgeneem (a) en Hy is vir ons daar ten goede (b), totdat Hy terugkom om reg te spreek oor die lewendes en dié wat reeds gesterf het (c).
(a) Hand 1: 9; Mark 16: 19; Luk 24: 51. (b) Heb 9: 24; 4: 4; Rom 8: 34; Kol 3: 1. (c) Hand 1: 11; Matt 24: 30.
Vraag 47: Is Christus dan nie by ons tot die einde van die wêreld soos Hy ons beloof het nie (a)?
Antwoord: Christus is ware mens en ware God. Wat sy menslike natuur betref, is Hy nie meer op aarde nie (b), maar wat sy Godheid, majesteit, genade en Gees betref, gaan Hy nooit meer van ons af weg nie (c).
(a) Matt 28: 20. (b) Heb 8: 4; Matt 26: 11; Joh 16: 28; 17: 11; Hand 3: 21. (c) Joh 14: 18; Matt 28: 20.
Vraag 48: Maar as die mensheid nie oral is waar die Godheid is nie, word die twee nature in Christus dan nie van mekaar geskei nie?
Antwoord: Nee, glad nie. Die Godheid kan immers deur niks ingeperk word nie en is oral teenwoordig (a). Hieruit moet volg dat die Godheid wel buite sy aangenome mensheid (b) is, maar tog ook daarin is en persoonlik daarmee verenig bly.
(a) Jer 23: 24; Hand 7: 49. (b) Kol 2: 9; Joh 3: 13; 11: 15; Matt 28: 6.
Vraag 49: Watter nut het die hemelvaart van Christus vir ons?
Antwoord: Eerstens dat Hy in die hemel ons Voorspraak by die Vader is (a). Tweedens dat ons ons menslike natuur in die hemel as 'n betroubare waarborg het dat Hy, as die Hoof, ook ons, sy lede, na Hom toe sal neem (b). Derdens dat Hy sy Gees as waarborg na ons toe stuur (c) deur wie se krag ons soek na wat daar bo is, waar Christus is en aan die regterhand van God sit, en nie na wat op die aarde is nie (d).
(a) 1 Joh 2: 1; Rom 8: 34. (b) Joh 14: 2; 17: 24; 20: 17; Ef 2: 6. (c) Joh 14: 16; 16: 7; Hand 2: 33; 2 Kor 1: 22; 5: 5. (d) Kol 3: 1.
Vraag 50: Waarom word daar bygevoeg: en sit aan die regterhand van God?
Antwoord: Christus het na die hemel opgevaar sodat Hy Homself daar as die Hoof van sy Christelike kerk (a) kan betoon, deur wie die Vader alles regeer (b).
(a) Ef 1: 20-23; Kol 1: 18. (b) Matt 28: 18; Joh 5: 22.
Vraag 51: Watter nut bring hierdie heerlikheid van ons Hoof, Christus, vir ons?
Antwoord: Eerstens dat Hy deur sy Heilige Gees die hemelse gawes in ons, sy lede, uitstort (a). Tweedens dat Hy ons met sy mag teen alle vyande beskerm en bewaar (b).
(a) Hand 2: 33; Ef 4: 8. (b) Ps 2: 9; 110: 1, 2; Joh 10: 28; Ef 4: 8.
Vraag 52: Hoe word jy getroos deur die wederkoms van Christus om te oordeel dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het?
Antwoord: Dat ek in alle droefheid en vervolging dieselfde Persoon met gespanne verwagting as Regter uit die hemel verwag (a) wat Hom tevore in my plek voor die regbank van God gestel en alle vervloeking van my weggeneem het. Verder: dat Hy al sy en my vyande in die ewige verdoemenis sal werp (b) maar my, saam met al die uitverkorenes, na Hom in die hemelse blydskap en heerlikheid sal neem (c).
(a) Fil 3: 20; Luk 21: 28; Rom 8: 23; Tit 2: 13; 1 Tess 4: 16. (b) Matt 25: 41; 2 Tess 1: 6. (c) Matt 25: 34; 2 Tess 1: 7.
Vraag 53: Wat glo jy van die Heilige Gees?
Antwoord: Eerstens is Hy saam met die Vader en die Seun ware en ewige God (a). Tweedens is Hy ook aan my gegee (b) sodat Hy my deur 'n ware geloof deel laat kry aan Christus en al sy weldade (c), my troos (d) en ewig by my bly (e).
(a) 1 Joh 5: 7; Gen 1: 2; Jes 48: 16; 1 Kor 3: 16; 6: 19; Hand 5: 3, 4. (b) Gal 4: 6; Matt 28: 19, 20; 2 Kor 1: 22; Ef 1: 13. (c) Gal 3: 14; 1 Pet 1: 2; 1 Kor 6: 17. (d) Joh 15: 26; Hand 9: 31. (e) Joh 14: 16; 1 Pet 4: 14.
Vraag 54: Wat glo jy van die heilige, algemene, Christelike kerk?
Antwoord: Dat die Seun van God (a) uit die hele menslike geslag (b) vir Hom 'n gemeente wat tot die ewige lewe uitverkies is (c), deur sy Gees en Woord (d) in die eenheid van die ware geloof (e) van die begin van die wêreld af tot die einde toe (f) vergader, beskerm en onderhou (g), en dat ek daarvan 'n lewende lid is (h) en ewig sal bly (i).
(a) Ef 5: 26; Joh 10: 11; Hand 20: 28; Ef 4: 11-13. (b) Gen 26: 4; Op 5: 9. (c) Rom 8: 29; Ef 1: 10-13. (d) Jes 59: 21; Rom 1: 16; 10: 14-17; Ef 5: 26. (e) Hand 2: 42; Ef 4: 3-5. (f) Ps 71: 17, 18; Jes 59: 21; 1 Kor 11: 26. (g) Matt 16: 18; Joh 10: 28-30; Ps 129: 1-5. (h) 1 Joh 3: 14, 19-21; 2 Kor 13: 5; Rom 8: 10. (i) Ps 23: 6; 1 Kor 1: 8, 9; Joh 10: 28; 1 Joh 2: 19; 1 Pet 1: 5.
Vraag 55: Wat verstaan jy onder die gemeenskap van die heiliges?
Antwoord: Eerstens dat die gelowiges, almal saam en elkeen afsonderlik, as lede met die Here Christus gemeenskap en aan al sy skatte en gawes deel het (a). Tweedens dat elkeen verplig is om sy gawes gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van die ander lede aan te wend (b).
(a) 1 Joh 1: 3; Rom 8: 32; 1 Kor 12: 12, 13; 1 Kor 6:17. (b) 1 Kor 12: 21; 13: 1, 5; Fil 2: 4-8.
Vraag 56: Wat glo jy van die vergewing van die sondes?
Antwoord: Dat God, op grond van die voldoening van Christus, aan al my sondes en ook my sondige aard waarteen ek my lewe lank moet stry (a), nooit meer wil dink nie. Uit genade wil Hy aan my die geregtigheid van Christus skenk (b) sodat ek nooit weer in die strafgerig van God sal kom nie (c).
(a) 1 Joh 2: 2; 1: 7; 2 Kor 5: 19. (b) Rom 7: 23-25; Jer 31: 34; Miga 7: 19; Ps 103: 3, 10, 12. (c) Joh 3: 18; 5: 24.
Vraag 57: Watter troos gee die opstanding van die vlees aan jou?
Antwoord: Dat nie alleen my siel ná hierdie lewe dadelik tot Christus, sy Hoof, opgeneem sal word nie (a), maar ook hierdie selfde liggaam van my, deur die krag van Christus opgewek, weer met my siel verenig en aan die heerlike liggaam van Christus gelykvormig sal word (b).
(a) Luk 16: 22; 23: 43; Fil 1: 21, 23. (b) Job 19: 25, 26; 1 Joh 3: 2; Fil 3: 21.
Vraag 58: Watter troos skep jy uit die artikel van die ewige lewe?
Antwoord: Dat, aangesien ek nou reeds die begin van die ewige vreugde in my hart ervaar (a), ek ná hierdie lewe volkome saligheid sal besit -- 'n saligheid wat geen oog gesien, geen oor gehoor en in die hart van geen mens ooit opgekom het nie -- om God daarin ewig te prys (b).
(a) 2 Kor 5: 2, 3. (b) 1 Kor 2: 9.
Vraag 59: Maar wat baat dit jou nou dat jy dit alles glo?
Antwoord: Dat ek in Christus voor God geregverdig en 'n erfgenaam van die ewige lewe is (a).
(a) Hab 2: 4; Rom 1: 17; Joh 3: 36.
Vraag 60: Hoe is jy regverdig voor God?
Antwoord: Slegs deur 'n ware geloof in Jesus Christus (a); só dat al kla my gewete my aan dat ek teen al die gebooie van God swaar gesondig het en nie een daarvan gehou het nie (b), en dat ek nog gedurigdeur tot alle kwaad geneig is (c), God nogtans (d) aan my sonder enige verdienste van my kant (e), uit louter genade (f) die volkome genoegdoening (g), geregtigheid en heiligheid van Christus skenk (h). Dit reken Hy my toe asof ek nooit sonde gehad of gedoen het nie, asof ek self al die gehoorsaamheid volbring het wat Christus vir my volbring het (i). Aan hierdie weldaad het ek deel vir sover ek dit met 'n gelowige hart (j) aanneem.
(a) Rom 3: 21, 22, 24; 5: 1, 2; Gal 2: 16; Ef 2: 8, 9; Fil 3: 9. (b) Rom 3: 9. (c) Rom 7: 23. (d) Rom 4: 4; 2 Kor 5: 19. (e) Tit 3: 5; Deut 9: 6; Eseg 36: 22. (f) Rom 3: 24; Ef 2: 8. (g) 1 Joh 2: 2. (h) 1 Joh 2: 1. (i) 2 Kor 5: 21. (j) Rom 3: 22; Joh 3: 18.
Vraag 61: Waarom sê jy dat jy slegs deur die geloof regverdig is?
Antwoord: Nie dat ek op grond van die waarde van my geloof vir God aanneemlik is nie, maar omdat slegs die genoegdoening, geregtigheid en heiligheid van Christus my geregtigheid voor God is (a). En dit kan ek nie anders as slegs deur die geloof aanneem en my eie maak nie (b).
(a) 1 Kor 1: 30; 2: 2. (b) 1 Joh 5: 10.
Vraag 62: Maar waarom kan ons goeie werke nie die geregtigheid voor God of 'n deel daarvan wees nie?
Antwoord: Omdat die geregtigheid wat voor die oordeel van God kan bestaan, heeltemal volmaak moet wees en in alle opsigte met die wet van God ooreen moet stem (a), en dat ook ons beste werke in hierdie lewe almal onvolmaak en met sondes besmet is (b).
(a) Gal 3: 10; Deut 27: 26. (b) Jes 64: 6.
Vraag 63: Verdien ons goeie werke dan niks nie, terwyl God hulle tog in hierdie en in die toekomstige lewe wil beloon?
Antwoord: Hierdie beloning word nie uit verdienste nie, maar uit genade gegee (a).
(a) Luk 17: 10.
Vraag 64: Maar maak hierdie leer nie die mense onverskillig en roekeloos nie?
Antwoord: Nee, want dit is onmoontlik dat 'n mens wat deur 'n ware geloof in Christus ingeplant is, nie vrugte van dankbaarheid sou voortbring nie (a).
(a) Matt 7: 18; Joh 15: 5.
Vraag 65: Terwyl ons slegs deur die geloof deel aan Christus en al sy weldade kry, waar kom so 'n geloof dan vandaan?
Antwoord: Die Heilige Gees werk dit in ons harte (a) deur die verkondiging van die heilige evangelie en versterk dit deur die gebruik van die heilige sakramente (b).
(a) Ef 2: 8; 6: 23; Joh 3: 5; Fil 1: 29. (b) Matt 28: 19; 1 Pet 1: 22, 23.
Vraag 66: Wat is sakramente?
Antwoord: Dit is sigbare, heilige tekens en seëls wat God ingestel het om ons deur die gebruik daarvan die belofte van die evangelie nog beter te laat verstaan en dit te beseël. Hierdie belofte is dat God ons vanweë die enige offer van Christus, wat aan die kruis volbring is, vergewing van die sondes en die ewige lewe uit genade skenk (a).
(a) Gen 17: 11; Rom 4: 11; Deut 30: 6; Lev 6: 25; Heb 9: 7, 8, 9, 24; Eseg 20: 12; Jes 6: 6, 7; 54: 9.
Vraag 67: Is die Woord en die sakramente albei daarvoor bestem om ons geloof op die offer van Christus aan die kruis as die enigste grond van ons saligheid te wys?
Antwoord: Ja seker, want die Heilige Gees leer ons in die evangelie en verseker ons deur die sakramente dat ons volle saligheid op die enige offer van Christus rus wat aan die kruis vir ons gebring is (a).
(a) Rom 6: 3; Gal 3: 27.
Vraag 68: Hoeveel sakramente het Christus in die Nuwe Verbond of Testament ingestel?
Antwoord: Twee, naamlik die heilige Doop en die heilige Nagmaal.
Vraag 69: Hoe word jy in die heilige Doop daarop gewys en daarvan verseker dat die enige offer van Christus aan die kruis jou ten goede kom?
Antwoord: Só: Christus het die uitwendige waterbad ingestel (a). Daarby het Hy beloof (b) dat ek net so seker met sy bloed en Gees van die onreinheid van my siel, dit is, van al my sondes, gewas is (c) as wat ek uitwendig met die water gewas is, wat die vuilheid van die liggaam wegneem.
(a) Matt 28: 19. (b) Matt 28: 19; Mark 16: 16; Hand 2: 38; Joh 1: 33; Matt 3: 11; Rom 6: 3, 4. (c) 1 Pet 3: 21; Mark 1: 4; Luk 3: 3.
Vraag 70: Wat beteken dit om met die bloed en Gees van Christus gewas te wees?
Antwoord: Dit beteken om van God vergewing van sonde uit genade te ontvang ter wille van die bloed van Christus wat Hy in sy offer aan die kruis vir ons gestort het (a). Verder, om deur die Heilige Gees vernuwe en as lede van Christus geheilig te wees sodat ons die sonde hoe langer hoe meer afsterwe en godvresend en onbesproke lewe (b).
(a) Heb 12: 24; 1 Pet 1: 2; Op 1: 5; 7: 14; Sag 13: 1; Eseg 36: 25. (b) Joh 1:33; 3: 5; 1 Kor 6: 11; 12: 13; Rom 6: 4; Kol 2: 12.
Vraag 71: Waar het Christus ons belowe dat Hy ons net so seker met sy bloed en Gees wil was as wat ons met die doopwater gewas word?
Antwoord: Met die instelling van die Doop wat soos volg lui: Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees... (Matt 28: 19); en: Wie tot geloof gekom het en gedoop is, sal gered word; wie nie glo nie, sal veroordeel word (Mark 16: 16). Hierdie belofte word ook herhaal waar die Skrif die Doop die bad van die wedergeboorte en die afwassing van die sondes noem (Tit 3: 5; Hand 22: 16).
Vraag 72: Is die uitwendige waterbad self dan die afwassing van die sonde?
Antwoord: Nee (a), want alleen die bloed van Jesus Christus en die Heilige Gees reinig ons van alle sondes (b).
(a) Matt 3: 11; 1 Pet 3: 21; Ef 5: 26. (b) 1 Joh 1: 7; 1 Kor 6: 11.
Vraag 73: Waarom noem die Heilige Gees die Doop dan die bad van die wedergeboorte en die afwassing van die sondes?
Antwoord: God sê dit nie sonder gewigtige rede nie. Hy wil ons naamlik daarmee leer dat die bloed en Gees van Christus ons sondes só wegneem soos die water die vuilheid van die liggaam wegneem. Verder wil Hy ons veral deur hierdie Goddelike waarborg en teken verseker dat ons net so werklik geestelik van ons sondes gewas is, as wat ons liggaam uitwendig met water gewas word.
Vraag 74: Moet die jong kinders ook gedoop word?
Antwoord: Ja, aangesien hulle net soos die volwassenes in die verbond van God en sy gemeente ingesluit is (a). Ook aan hulle word nie minder as aan die volwassenes deur die bloed van Christus die verlossing van die sondes (b) en die Heilige Gees wat die geloof werk (c), beloof nie. Daarom moet hulle ook deur die Doop as teken van die verbond in die Christelike kerk ingelyf en van die kinders van die ongelowiges onderskei word (d). So is dit in die Ou Verbond deur die besnydenis gedoen (e) in die plek waarvan in die Nuwe Verbond, die Doop, ingestel is (f).
(a) Gen 17: 7. (b) Matt 19: 14. (c) Luk 1: 15; Ps 22: 11; Jes 44: 1-3; Hand 2: 39. (d) Hand 10: 47. (e) Gen 17: 14. (f) Kol 2: 11-13.
Vraag 75: Hoe word jy in die heilige Nagmaal daarop gewys en daarvan verseker dat jy aan die enige offerande van Christus aan die kruis en aan al sy weldade deel het?
Antwoord: Christus het my en alle gelowiges beveel om tot sy gedagtenis van hierdie gebreekte brood te eet en van hierdie beker te drink. Daarby het Hy beloof (a), eerstens dat sy liggaam so seker vir my aan die kruis geoffer en gebreek, en sy bloed vir my gestort is, as wat ek met my oë sien dat die brood van die Here vir my gebreek en die beker aan my gegee word.
Tweedens, dat Hy self my siel met sy gekruisigde liggaam en gestorte bloed net so seker vir die ewige lewe voed en verkwik as wat ek die brood en die beker van die Here, as ontwyfelbare tekens van Christus se liggaam en bloed, uit die hand van die bedienaar ontvang en met die mond geniet.
(a) Matt 26: 26-28; Mark 14: 22-24; Luk 22: 19, 20; 1 Kor 10:16, 17; 11: 23-25; 12: 13.
Vraag 76: Wat beteken dit om die gekruisigde liggaam van Christus te eet en sy bloed wat vergiet is, te drink?
Antwoord: Dit beteken nie slegs om met 'n gelowige hart die hele lyding en sterwe van Christus aan te neem en daardeur vergewing van sondes en die ewige lewe te verkry nie (a). Dit beteken boonop om deur die Heilige Gees, wat tegelyk in Christus en in ons woon, al hoe meer so met sy geseënde liggaam verenig te word (b), dat ons vlees van sy vlees en been van sy gebeente is (c), al is Christus nou in die hemel (d) en ons op die aarde. Dit wil sê dat ons deur een Gees -- soos die ledemate van die liggaam deur een siel -- ewig lewe en geregeer word (e).
(a) Joh 6: 35, 40, 47, 48, 50, 51, 53, 54. (b) Joh 6: 55, 56. (c) Ef 5: 29, 30; 3: 16; 1 Kor 6: 15; 1 Joh 3: 24; 4: 13. (d) Kol 3: 1; Hand 3: 21; 1 Kor 11: 26. (e) Joh 6: 57; 15: 1-6; Ef 4: 15, 16.
Vraag 77: Waar het Christus beloof dat Hy die gelowiges so seker met sy liggaam en bloed sal voed en verkwik as wat hulle van hierdie gebreekte brood eet en uit hierdie beker drink?
Antwoord: By die instelling van die Nagmaal, wat soos volg lui (a):
Die Here Jesus het in die nag waarin Hy oorgelewer is, brood geneem en, nadat Hy God daarvoor gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: 'Dit is my liggaam; dit is vir júlle. Gebruik dit tot my gedagtenis.' Net so het Hy ná die maaltyd die beker geneem en gesê: 'Hierdie beker is die nuwe verbond, wat deur my bloed beseël is. Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.' Elke keer as julle van hierdie brood eet en uit die beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom (1 Kor 11: 23-26). Hierdie belofte word ook herhaal deur Paulus waar hy sê: Die beker van danksegging, waarvoor ons God dank, is dit nie die gemeenskap met die bloed van Christus nie? Die brood wat ons breek, is dit nie die gemeenskap met die liggaam van Christus nie? Omdat dit een brood is, is ons, al is ons baie, saam een liggaam, want ons het almal deel aan die een brood (1 Kor 10: 16, 17).
(a) Matt 26: 26-28; Mark 14: 22-24; Luk 22: 19, 20.
Vraag 78: Verander die brood en wyn dan in die werklike liggaam en bloed van Christus?
Antwoord: (a) Nee, maar soos die water by die Doop nie in die bloed van Christus verander of die afwassing van die sonde self is nie, maar slegs 'n Goddelike teken en versekering daarvan (b), so verander die brood by die Nagmaal nie in die liggaam van Christus self nie (c). Ooreenkomstig die aard en gebruik van die sakramente, word die brood egter die liggaam van Christus genoem (d).
(a) Matt 26: 29. (b) Ef 5: 26; Tit 3: 5. (c) 1 Kor 10: 16; 11: 26. (d) Gen 17: 10, 11; Eks 12: 11, 13; 13: 9; 1 Pet 3: 21; 1 Kor 10: 3, 4.
Vraag 79: Waarom noem Christus dan die brood sy liggaam en die beker sy bloed of die Nuwe Testament in sy bloed en waarom noem Paulus dit die gemeenskap met die liggaam en bloed van Christus?
Antwoord: Daar is gewigtige redes waarom Christus so sê: Hy wil ons daarmee leer dat soos brood en wyn die tydelike lewe onderhou, so voed sy gekruisigde liggaam en gestorte bloed, as die egte voedsel en drank, ons siele vir die ewige lewe (a). Verder wil Hy ons deur hierdie sigbare tekens en waarborge veral verseker dat ons net so seker deur die werking van die Heilige Gees aan sy ware liggaam en bloed deel kry, as wat ons hierdie heilige tekens met die liggaamlike mond tot sy gedagtenis ontvang (b). Hy verseker ons ook dat al sy lyding en gehoorsaamheid so seker ons eie is, asof ons self in eie persoon alles gely en die skuld vir ons sondes aan God ten volle betaal het.
(a) Joh 6: 55. (b) 1 Kor 10: 16.
Vraag 80: Wat is die onderskeid tussen die Nagmaal van die Here en die Roomse mis?
Antwoord: Die Nagmaal betuig aan ons dat ons volkome vergewing van al ons sondes het, ter wille van die enige offer van Jesus Christus wat Hy self eens en vir altyd aan die kruis volbring het (a), en dat ons deur die Heilige Gees in Christus ingelyf word (b), wat nou na sy menslike natuur in die hemel aan die regterhand van die Vader (c) is en daar deur ons aanbid wil word (d). Die Roomse mis daarenteen leer dat die lewendes en die gestorwenes nie deur die lyding van Christus vergewing van sondes het nie, tensy Christus nog daagliks vir hulle deur die priesters geoffer word. Verder dat Christus liggaamlik in die brood en wyn aanwesig is en derhalwe daarin aanbid moet word. Die mis is dus in wese niks anders nie as 'n verloëning van die enige offer en lyding van Jesus Christus, en 'n afgodery wat vervloek is (e).
(a) Heb 10: 10, 12; 7: 26, 27; 9: 12, 25; Joh 19: 30; Matt 26: 28; Luk 22: 19. (b) 1 Kor 10: 16, 17; 6: 17. (c) Joh 20: 17; Kol 3: 1; Heb 1: 3; 8: 1. (d) Matt 6: 20, 21; Joh 4: 21; Luk 24: 52; Hand 7: 55; Kol 3: 1; Fil 3: 20; 1 Tess 1: 10. (e) Heb 9: 26; 10: 12, 14.
Vraag 81: Wie moet na die Nagmaaltafel van die Here kom?
Antwoord: Hulle wat vanweë hulle sondes 'n afkeer van hulleself het, maar tog vertrou dat dit hulle om Christus wil vergewe is en dat die swakhede wat nog oor is, met sy lyding en sterwe bedek is; en dié wat ook begeer om hulle geloof hoe langer hoe meer te versterk en hulle lewe te verbeter. Maar die huigelaars en dié wat hulle nie van harte tot God bekeer nie, eet en drink 'n veroordeling oor hulleself (a).
(a) 1 Kor 11: 28; 10: 19-22.
Vraag 82: Moet dié mense ook aan die Nagmaal toegelaat word wat met hulle belydenis en lewe wys dat hulle ongelowig en goddeloos is?
Antwoord: Nee, want so word die verbond van God ontheilig en sy toorn oor die hele gemeente opgewek (a). Daarom is die Christelike kerk volgens die bevel van Christus en sy apostels verplig om sulke mense met die sleutels van die koninkryk van die hemel uit te sluit, totdat hulle verbetering van hulle lewe bewys.
(a) 1 Kor 11: 20, 34; Jes 1: 11; 66: 3; Jer 7: 21; Ps 50: 16.
Vraag 83: Wat is die sleutels van die koninkryk van die hemel?
Antwoord: Die verkondiging van die heilige evangelie en die Christelike tug. Met albei hierdie handelinge word die koninkryk van die hemel vir die gelowiges oopgesluit en vir die ongelowiges toegesluit.
Vraag 84: Hoe word die koninkryk van die hemel deur die verkondiging van die heilige evangelie oop- en toegesluit?
Antwoord: Volgens die bevel van Christus word aan die gelowiges gesamentlik en afsonderlik verkondig en openlik betuig dat al hulle sondes hulle waarlik deur God ter wille van die verdienste van Christus vergewe is, so dikwels as wat hulle die belofte van die evangelie met 'n ware geloof aanneem. Daarenteen word aan al die ongelowiges en huigelaars verkondig dat die toorn van God en die ewige verdoemenis op hulle rus, solank hulle hulle nie bekeer nie (a). Volgens hierdie getuienis van die evangelie sal God sowel in hierdie as in die toekomstige lewe, oordeel.
(a) Joh 20: 21-23; Matt 16: 19.
Vraag 85: Hoe word die koninkryk deur die Christelike tug toe- en oopgesluit?
Antwoord: Volgens die bevel van Christus word dié wat die naam Christen dra en tog 'n onchristelike leer huldig of hulle onchristelik gedra, eers herhaalde kere broederlik vermaan. As hulle egter nie van hulle dwalinge of skandelike lewe wil afsien nie, moet dit aan die gemeente of aan dié wat deur die gemeente daarvoor aangewys is, gesê word. As hulle hulle ook nie aan laasgenoemde se vermaninge steur nie, word hulle nie langer tot die heilige sakramente toegelaat nie en uit die Christelike gemeente en deur God self uit die ryk van Christus uitgesluit. Hulle word weer as lede van Christus en sy gemeente aangeneem wanneer hulle werklike verbetering beloof en bewys (a).
(a) Matt 18: 15-17; 1 Kor 5: 4, 5, 11; 2 Kor 2: 6-8.
Vraag 86: Waarom moet ons nog goeie werke doen, terwyl ons tog sonder enige verdienste van ons kant alleen uit genade deur Christus uit ons ellende verlos is?
Antwoord: Omdat Christus ons, nadat Hy ons met sy bloed gekoop het, ook deur sy Heilige Gees tot sy ewebeeld vernuwe, sodat ons met ons hele lewe bewys (a) dat ons God dankbaar is vir sy weldade en Hy deur ons geprys (b) word. Verder, sodat ons vir onsself uit die vrugte van ons geloof sekerheid kan kry (c), en ons deur ons godvresende lewe ons naaste ook vir Christus kan wen (d).
(a) Rom 6: 13; 12: 1, 2; 1 Pet 2: 5, 9; 1 Kor 6: 20. (b) Matt 5: 16; 1 Pet 2: 12. (c) 2 Pet 1: 10; Matt 7: 17; Gal 5: 6, 22. (d) 1 Pet 3: 1, 2; Rom 14: 19.
Vraag 87: Kan dié mense dan nie salig word wat in hulle goddelose ondankbare lewe volhard en hulle nie tot God bekeer nie?
Antwoord: Nee, glad nie. Want die Skrif sê dat geen onkuise, afgodedienaar, egbreker, dief, gierigaard, dronkaard, lasteraar, rower en sulkes die koninkryk van God sal beërwe nie (a).
(a) 1 Kor 6: 9, 10; Ef 5: 5, 6; 1 Joh 3: 14.
Vraag 88: Uit hoeveel dele bestaan die ware bekering van die mens?
Antwoord: Uit twee dele: die afsterwing van die ou mens en die opstanding van die nuwe mens (a).
(a) Rom 6: 1, 4-6; Ef 4: 22-24; Kol 3: 5, 6, 8-10; 1 Kor 5: 7; 2 Kor 7: 10.
Vraag 89: Wat is die afsterwing van die ou mens?
Antwoord: Dit is 'n hartlike berou daaroor dat ons God deur ons sondes vertoorn het en daarom hoe langer hoe meer die sonde haat en daarvan wegvlug (a).
(a) Rom 8: 13; Joël 2: 13; Hos 6: 1.
Vraag 90: Wat is die opstanding van die nuwe mens?
Antwoord: Dit is 'n hartlike vreugde in God deur Christus (a) en 'n lus en liefde om volgens die wil van God in alle goeie werke te lewe (b).
(a) Rom 5: 1; 14: 17; Jes 57: 15. (b) Rom 6: 10, 11; Gal 2: 20.
Vraag 91: Wat is goeie werke?
Antwoord: Slegs dié wat uit 'n ware geloof (a), volgens die wet van God (b), tot sy eer gedoen word (c), en nie dié wat op ons goeddunke of op oorgelewerde gebruike van mense gegrond is nie (d).
(a) Rom 14: 23. (b) Lev 18: 4; 1 Sam 15: 22; Ef 2: 10. (c) 1 Kor 10: 31. (d) Eseg 20: 18, 19; Jes 29: 13; Matt 15: 7-9.
Vraag 92: Hoe lui die wet van die Here?
Antwoord: Toe het God al hierdie gebooie aangekondig (Eks 20: 1-17; Deut 5: 6-21): Ek is die Here, jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het.
Die eerste gebod:
Jy mag naas My geen ander gode hê nie.
Die tweede gebod:
Jy mag nie vir jou 'n beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie. Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My. Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat, maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam.
Die derde gebod:
Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat bly nie.
Die vierde gebod:
Sorg dat jy die sabbatdag heilig hou. Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk, of enige dier van jou of die vreemdeling by jou nie. Die Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin. Op die sewende dag het Hy gerus, en daarom het die Here dit as gereelde rusdag ingestel en dit geheilig.
Die vyfde gebod:
Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee.
Die sesde gebod:
Jy mag nie moord pleeg nie.
Die sewende gebod:
Jy mag nie egbreuk pleeg nie.
Die agtste gebod:
Jy mag nie steel nie.
Die negende gebod:
Jy mag nie vals getuienis teen 'n ander gee nie.
Die tiende gebod:
Jy mag nie iemand anders se huis begeer nie. Jy mag nie sy vrou begeer nie, ook nie 'n slaaf of slavin, 'n bees of 'n donkie, of enigiets anders wat aan hom behoort nie.
Vraag 93: Hoe word hierdie gebooie ingedeel?
Antwoord: In twee tafels (a), waarvan die eerste in vier gebooie ons leer hoe ons ons teenoor God moet gedra; die tweede in ses gebooie, wat ons aan ons naaste verskuldig is (b).
(a) Deut 4: 13; Eks 34: 28; Deut 10: 3, 4. (b) Matt 22: 37, 40.
Vraag 94: Wat gebied God in die eerste gebod?
Antwoord: Ek moet ter wille van my sieleheil en saligheid alle afgodery (a), towery, waarsêery, bygeloof (b), aanroeping van heiliges of ander skepsels (c) vermy en daarvan wegvlug. Ek moet die enige ware God reg leer ken (d), Hom alleen vertrou (e), my slegs aan Hom met alle nederigheid (f) en geduld onderwerp (g) en van Hom alleen alle goeie dinge (h) verwag. Ek moet Hom met my hele hart liefhê (i), vrees (j) en eer (k). Sodoende sien ek eerder van alle skepsels af as om in die minste teen sy wil te handel (l).
(a) 1 Joh 5: 21; 1 Kor 6: 10; 10: 7, 14. (b) Lev 19: 31; Deut 18: 9, 10. (c) Matt 4: 10; Op 19: 10; 22: 8, 9. (d) Joh 17: 3. (e) Jer 17: 5, 7. (f) 1 Pet 5: 5. (g) Heb 10: 36; Kol 1: 11; Rom 5: 3, 4; 1 Kor 10: 10; Fil 2: 14. (h) Ps 104: 27; Jes 45: 7; Jak 1: 17. (i) Deut 6: 5; Matt 22: 37. (j) Deut 6: 2; Ps 111: 10; Spr 1: 7; 9: 10; Matt 10: 28. (k) Matt 4: 10; Deut 10: 20. (l) Matt 5: 29; 10: 37; Hand 5: 29.
Vraag 95: Wat is afgodery?
Antwoord: Dit is om in die plek van die enige ware God wat Hom in sy Woord geopenbaar het, of naas Hom iets anders uit te dink of te hê waarop jy jou vertroue stel (a).
(a) Ef 5: 5; 1 Kron 16: 26; Fil 3: 19; Gal 4: 8; Ef 2: 12; 1 Joh 2: 23; 2 Joh 9; Joh 5: 23.
Vraag 96: Wat eis God in die tweede gebod?
Antwoord: Ons mag God op geen enkele manier afbeeld nie (a) en Hom op geen ander manier vereer as wat Hy in sy Woord beveel het nie (b).
(a) Jes 40: 18, 19, 25; Deut 4: 15, 16; Rom 1: 23; Hand 17: 29. (b) 1 Sam 15: 23; Deut 12: 30; Matt 15: 19.
Vraag 97: Mag ons dan glad nie beelde maak nie?
Antwoord: God kan en mag op geen enkele manier afgebeeld word nie (a). Die skepsels mag wel afgebeeld word, maar God verbied dat ons van hulle afbeeldings maak en besit om dit te vereer en Hom daardeur te dien (b).
(a) Jes 40: 25. (b) Eks 34: 17; 23: 24; 34: 13; Num 33: 52.
Vraag 98: Mag ons beelde as boeke van die leke in die kerkgebou toelaat?
Antwoord: Nee, want ons moet nie wyser as God wil wees nie. Hy wil sy Christene nie deur stom beelde nie (a), maar deur die lewende verkondiging van sy Woord laat onderrig (b).
(a) Jer 10: 8; Heb 2: 18. (b) Rom 10: 14, 15, 17; 2 Pet 1: 19; 2 Tim 3: 16, 17.
Vraag 99: Wat eis die derde gebod?
Antwoord: Ons mag die Naam van God nie laster of misbruik deur te vloek (a), deur 'n valse eed (b) of deur onnodig te sweer nie (c). Verder mag ons nie deur stil te bly of dit toe te laat, ons aan sulke verskriklike sondes skuldig maak nie (d). Kortom, ons mag die heilige Naam van God nie anders as met vrees en eerbied gebruik nie (e), sodat Hy deur ons reg bely (f), aangeroep (g) en in al ons woorde en werke geprys word (h).
(a) Lev 24: 15, 16. (b) Lev 19: 12. (c) Matt 5: 37; Jak 5: 12. (d) Lev 5: 1; Spr 29: 24. (e) Jer 4: 2; Jes 45: 23. (f) Matt 10: 32; Rom 10: 9, 10. (g) Ps 50: 15; 1 Tim 2: 8. (h) Kol 3: 17; Rom 2: 24; 1 Tim 6: 1.
Vraag 100: Is dit dan so 'n groot sonde om die Naam van God te laster deur te sweer en te vloek dat God Hom ook oor elkeen vertoorn wat hierdie sonde nie so ver moontlik teëgaan en verbied nie?
Antwoord: Ja seker (a), want geen sonde is groter en vertoorn God meer as die lastering van sy Naam nie. Daarom het Hy ook beveel om dit met die dood te straf (b).
(a) Spr 29: 24; Lev 5: 1. (b) Lev 24: 16.
Vraag 101: Mag 'n mens ook godvresend by die Naam van God 'n eed sweer?
Antwoord: Ja, as die owerheid dit van sy onderdane eis of as die nood dit vereis om daardeur trou en waarheid te bevestig. Dit moet dan tot eer van God en tot heil van ons naaste gedoen word. Sodanige eedswering is op die Woord van God gegrond (a), en die gelowiges in die Ou en Nuwe Verbond het dit reg gebruik (b).
(a) Deut 6: 13; 10: 20; Jes 48: 1; Heb 6: 16. (b) Gen 21: 24; 31: 53; Jos 9: 15; 1 Sam 24: 23; 2 Sam 3: 35; 1 Kon 1: 29; Rom 1: 9; 9: 1; 2 Kor 1: 23.
Vraag 102: Mag 'n mens ook by die heiliges of by ander skepsels sweer?
Antwoord: Nee, want om 'n regte eed te sweer, beteken dat ons God aanroep as die enigste kenner van die hart om vir die waarheid getuienis te gee en my te straf as ek vals sweer (a). Hierdie eer kom geen skepsel toe nie (b).
(a) 2 Kor 1: 23; Rom 9: 1. (b) Matt 5: 34-36; Jak 5: 12.
Vraag 103: Wat gebied God in die vierde gebod?
Antwoord: God wil eerstens dat die Woordbediening en die godsdiensonderrig in stand gehou word (a). Ek moet veral ook op die rusdag ywerig met die gemeente van God saamkom (b) om die Woord van God te hoor (c), die sakramente te gebruik (d), die Here openlik aan te roep (e) en die Christelike liefdegawes te gee (f). Ten tweede moet ek elke dag van my lewe van my bose werke rus, en die Here deur sy Gees in my laat werk. So begin ek die ewige sabbat reeds in hierdie lewe (g).
(a) Tit 1: 5; 2 Tim 3: 14; 1 Kor 9: 13, 14; 2 Tim 2: 2; 3: 15. (b) Ps 40: 10, 11; 68: 27; Hand 2: 42. (c) 1 Tim 4: 13; 1 Kor 14: 29. (d) 1 Kor 11: 33. (e) 1 Tim 2: 1; 1 Kor 14: 16. (f) 1 Kor 16: 2. (g) Jes 66: 23.
Vraag 104: Wat eis God in die vyfde gebod?
Antwoord: Ek moet my vader en moeder en almal wat oor my gestel is, alle eer, liefde en trou bewys. Aan hulle goeie leer en tug moet ek my met die verskuldigde gehoorsaamheid onderwerp (a). Ek moet ook met hulle gebreke geduld hê (b), omdat God ons deur hulle wil regeer (c).
(a) Ef 6: 1, 2, 5; Kol 3: 18, 20, 22; Ef 5: 22; Spr 1: 8; 4: 1; 15: 20; 20: 20; Eks 21: 17; Rom 13: 1. (b) Spr 23: 22; Gen 9: 24; 1 Pet 2: 18. (c) Ef 6: 4, 9; Kol 3: 20; Rom 13: 2, 3; Matt 22: 21.
Vraag 105: Wat eis God in die sesde gebod?
Antwoord: Ek mag nie self en ook nie deur iemand anders my naaste onteer, haat, beledig of doodmaak nie. Ek mag dit nie met my gedagtes, woorde of gebare doen nie en nog minder met die daad (a). Ek moet alle wraaksug laat vaar (b). Ek mag ook myself nie kwaad aandoen of moedswillig in gevaar begewe nie (c). Daarom dra die owerheid die swaard om doodslag te weer (d).
(a) Matt 5: 21, 22; 26: 52; Gen 9: 6. (b) Ef 4: 26; Rom 12: 19; Matt 5: 25; 18: 35. (c) Rom 13: 14; Kol 2: 23; Matt 4: 7. (d) Gen 9: 6; Eks 21: 14; Matt 26: 52; Rom 13: 4.
Vraag 106: Praat hierdie gebod net van doodmaak?
Antwoord: Deur doodmaak te verbied, leer God ons dat Hy die wortel daarvan (a), soos afguns, haat (b), woede (c) en wraaklus, verafsku. Dit alles is vir Hom heimlike moord (d).
(a) Spr 14: 30; Rom 1: 29. (b) 1 Joh 2: 11. (c) Jak 1: 20; Gal 5: 19-21. (d) 1 Joh 3: 15.
Vraag 107: Het ons die gebod gehoorsaam as ons maar net nie ons naaste doodmaak nie, soos hierbo gesê is?
Antwoord: Nee, terwyl God afguns, haat en woede verbied, gebied Hy dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself (a). Ons moet teenoor hom geduldig, vredeliewend, sagmoedig, barmhartig en vriendelik wees (b), alles wat hom kan benadeel so ver moontlik probeer voorkom (c), en selfs aan ons vyande goed doen (d).
(a) Matt 22: 39; 7: 12; Rom 12: 10. (b) Ef 4: 2; Gal 6: 1, 2; Matt 5: 5; Rom 12: 18; Luk 6: 36; Matt 5: 7; 1 Pet 3: 8; Kol 3:12. (c) Eks 23: 5. (d) Matt 5: 44, 45; Rom 12: 20.
Vraag 108: Wat leer die sewende gebod ons?
Antwoord: Alle onkuisheid is deur God vervloek (a), en daarom moet ons dit hartgrondig haat (b). Daarenteen moet ons kuis en ingetoë lewe (c), sowel binne as buite die huwelik (d).
(a) Lev 18: 28. (b) Jud 1: 23. (c) 1 Tess 4: 3-5. (d) Heb 13: 4; 1 Kor 7: 7.
Vraag 109: Verbied God in hierdie gebod niks meer as net egbreuk en sulke skandes nie?
Antwoord: Omdat albei, ons liggaam en siel, 'n tempel van die Heilige Gees is, wil God dat ons altwee rein en heilig bewaar. Daarom verbied Hy alle onkuise dade, gebare, woorde (a), gedagtes, luste (b) en alles wat 'n mens daartoe kan verlei (c).
(a) Ef 5: 3, 4; 1 Kor 6: 18, 19. (b) Matt 5: 27, 28. (c) Ef 5: 18; 1 Kor 15: 33.
Vraag 110: Wat verbied God in die agtste gebod?
Antwoord: God verbied nie slegs dié diefstal (a) en roof (b) wat die owerheid straf nie, maar Hy beskou ook as diefstal al die skelmstreke en liste waardeur ons probeer om ons naaste se besittings in die hande te kry (c). Dit kan gebeur met geweld of 'n skyn van reg, soos deur die vervalsing van gewigte, lengtemaat, inhoudsmaat, goedere (d), geld, deur woeker (e) of enige middel wat God verbied. Hy verbied ook alle gierigheid (f) en alle misbruik en verkwisting van sy gawes (g).
(a) 1 Kor 6: 10. (b) 1 Kor 5: 10; Jes 33: 1. (c) Luk 3: 14; 1 Tess 4: 6. (d) Spr 11: 1; 16: 11; Eseg 45: 9, 10; Deut 25: 13. (e) Ps 15: 5; Luk 6: 35. (f) 1 Kor 6: 10. (g) Spr 23: 20, 21; 21: 20.
Vraag 111: Maar wat gebied God jou in hierdie gebod?
Antwoord: Ek moet die belange van my naaste, waar ek kan en mag, bevorder en hom so behandel soos ek wil hê dat hy my moet behandel (a). Daarby moet ek ook my werk getrou doen, sodat ek die behoeftiges in hulle nood kan help (b).
(a) Matt 7: 12. (b) Ef 4: 28.
Vraag 112: Wat eis die negende gebod?
Antwoord: Ek mag teen niemand valse getuienis aflê (a), niemand se woorde verdraai (b), nie 'n kwaadsteker of lasteraar wees nie (c), niemand onverhoord en ligtelik help veroordeel nie (d). Alle vorme van lieg en bedrieg moet ek as die duiwel (e) se eie werke vermy as ek nie die sware toorn van God oor my wil bring (f) nie. In regsake en in alle ander handelinge moet ek die waarheid liefhê, en opreg wees in wat ek sê en bely (g). My naaste se eer en goeie naam moet ek na my vermoë verdedig en bevorder (h).
(a) Spr 19: 5, 9; 21: 28. (b) Ps 15: 3; 50: 19, 20. (c) Rom 1: 30. (d) Matt 7: 1; Luk 6: 37. (e) Joh 8: 44. (f) Spr 12: 22; 13: 5. (g) 1 Kor 13: 6; Ef 4: 25. (h) 1 Pet 4: 8.
Vraag 113: Wat eis die tiende gebod van ons?
Antwoord: Selfs die geringste begeerte of gedagte teen enige gebod van God mag nooit in ons hart opkom nie. Ons moet altyd en heelhartig vyande van alle sonde wees en 'n begeerte tot alle geregtigheid hê (a).
(a) Rom 7: 7.
Vraag 114: Maar kan dié wat tot God bekeer is, hierdie gebooie volmaak gehoorsaam?
Antwoord: Nee, want selfs die allerheiligstes het, solank hulle in hierdie lewe is, nog maar 'n geringe begin van hierdie gehoorsaamheid (a), maar tog so dat hulle met 'n ernstige voorneme begin om nie alleen volgens sommige nie, maar volgens al die gebooie van God te lewe (b).
(a) 1 Joh 1: 8; Rom 7: 14, 15; Pred 7: 20; 1 Kor 13: 9. (b) Rom 7: 22; Ps 1: 2.
Vraag 115: Waarom laat God die Tien Gebooie dan so streng aan ons voorhou as niemand dit tog in hierdie lewe kan onderhou nie?
Antwoord: Eerstens, sodat ons gedurende ons hele lewe ons sondige natuur hoe langer hoe beter kan leer ken (a), en met groter verlange na die vergewing van sondes en na die geregtigheid in Christus kan soek (b). Tweedens moet ons ons sonder ophou beywer en God om die genade van die Heilige Gees bid, sodat ons altyd meer en meer na die ewebeeld van God vernuwe mag word totdat ons ná hierdie lewe die volmaaktheid as doel bereik (c).
(a) Rom 3: 20; 1 Joh 1: 9; Ps 32: 5. (b) Matt 5: 6; Rom 7: 24, 25. (c) 1 Kor 9: 24; Fil 3: 12-14.
Vraag 116: Waarom is die gebed vir die Christene nodig?
Antwoord: Omdat dit die vernaamste deel van die dankbaarheid is wat God van ons eis (a). En omdat God sy genade en Heilige Gees alleen aan hulle wil gee wat Hom met hartlike versugtinge sonder ophou daarom bid en daarvoor dank (b).
(a) Ps 50: 14. (b) Matt 7: 7; Luk 11: 9, 13; 1 Tess 5: 17.
Vraag 117: Hoe moet 'n gebed wees wat God behaag en deur Hom verhoor word?
Antwoord: Eerstens moet ons alleen die enige ware God wat Hom in sy Woord geopenbaar het (a), van harte aanroep (b) vir alles waarvoor Hy ons beveel het om te bid (c). Tweedens moet ons ons nood en ellende reg en grondig ken (d), sodat ons ons voor sy Majesteit kan verootmoedig (e). Derdens het ons hierdie vaste grond (f) dat Hy ons gebed, hoewel ons dit nie verdien nie, tog ter wille van die Here Christus sekerlik wil verhoor (g), soos Hy dit vir ons in sy Woord beloof het (h).
(a) Op 19: 10; Joh 4: 22-24. (b) Rom 8: 26; 1 Joh 5: 14; Jak 1: 5. (c) Joh 4: 24; Ps 145: 18. (d) 2 Kron 20: 12. (e) Ps 2: 11; 34: 19; Jes 66: 2. (f) Rom 10: 14; Jak 1: 6. (g) Joh 14: 13; 16: 23; Dan 9: 18. (h) Matt 7: 8; Ps 27: 8.
Vraag 118: Wat het God ons beveel om van Hom te bid?
Antwoord: Alle geestelike en liggaamlike behoeftes wat Christus saamgevat het in die gebed wat Hy self aan ons geleer het (a).
(a) Jak 1: 17; Matt 6: 33.
Vraag 119: Hoe lui hierdie gebed?
Antwoord: Ons Vader wat in die hemel is,
laat u Naam geheilig word;
laat u koninkryk kom;
laat u wil ook op die aarde geskied,
net soos in die hemel;
gee ons vandag ons daaglikse brood;
en vergeef ons ons oortredinge
soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree;
en laat ons nie in versoeking kom nie,
maar verlos ons van die Bose.
Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.
(Sien endnoot 1.)
(a) Matt 6: 9-13; Luk 11: 2-4.
Vraag 120: Waarom het Christus ons beveel om God as ons Vader aan te spreek?
Antwoord: Sodat Hy heel aan die begin van ons gebed in ons die kinderlike vrees en vertroue op God sal wek. Dít moet die grond van ons gebed wees, naamlik dat God deur Christus ons Vader geword het, en dat Hy ons veel minder dít wat ons van Hom in die geloof bid, sal weier as wat ons vaders ons aardse dinge ontsê (a).
(a) Matt 7: 9-11; Luk 11: 11-13.
Vraag 121: Waarom word hier bygevoeg: Wat in die hemel is?
Antwoord: Sodat ons van die hemelse majesteit van God nie aards moet dink nie (a) en van sy almag alles verwag wat ons vir liggaam en siel nodig het (b).
(a) Jer 23: 23, 24; Hand 17: 24, 25, 27. (b) Rom 10: 12.
Vraag 122: Wat is die eerste bede?
Antwoord: Laat u Naam geheilig word. Dit is: Gee allereers dat ons U reg ken (a) en dat ons U heilig, roem en prys in al u werke waarin u almag, wysheid, goedheid, geregtigheid, barmhartigheid en waarheid so skitter (b). Gee verder dat ons ons hele lewe, gedagtes, woorde en werke daarop sal rig dat u Naam nie om ons ontwil gelaster nie, maar geëer en geprys word (c).
(a) Joh 17: 3; Jer 9: 24; 31: 33, 34; Matt 16: 17; Jak 1: 5; Ps 119: 105. (b) Ps 119: 137; Luk 1: 46, 47, 68, 69; Rom 11: 33. (c) Ps 71: 8; 115: 1.
Vraag 123: Wat is die tweede bede?
Antwoord: Laat u koninkryk kom. Dit is: Regeer ons so deur u Woord en Gees dat ons ons hoe langer hoe meer aan U onderwerp (a). Bewaar u kerk en laat dit groei (b). Vernietig die werke van die duiwel, elke mag wat teen U opstaan, en alle kwaadwillige planne wat teen u heilige Woord bedink word (c), totdat die volkomenheid van u ryk kom (d), waarin U alles in almal sal wees (e).
(a) Ps 143: 10; 119: 5; Matt 6: 33. (b) Ps 51: 20; 112: 6. (c) 1 Joh 3: 8; Rom 16: 20. (d) Op 22: 20; Rom 8: 22, 23. (e) 1 Kor 15: 28.
Vraag 124: Wat is die derde bede?
Antwoord: Laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel. Dit is: Gee dat ons en alle mense ons eie wil prysgee (a) om aan u wil, wat alleen goed is, sonder enige teëpratery gehoorsaam te wees (b), sodat elkeen sy amp en beroep net so gewillig en getrou kan beoefen en uitvoer (c) soos die engele in die hemel (d).
(a) Matt 16: 24; Tit 2: 11, 12. (b) Luk 22: 42; Ef 5: 10; Rom 12: 2. (c) 1 Kor 7: 24. (d) Ps 103: 20, 21.
Vraag 125: Wat is die vierde bede?
Antwoord: Gee ons vandag ons daaglikse brood. Dit is: Versorg ons met alles wat vir die liggaam nodig is (a), sodat ons daardeur erken dat U die enigste Bron is van alles wat goed is (b), en dat al ons sorg en arbeid en ook u gawes sonder u seën ons nie kan baat nie (c). Gee daarom dat ons ons vertroue van alle skepsele aftrek, en op U alleen stel (d).
(a) Ps 145: 15; 104: 27; Matt 6: 26. (b) Jak 1: 17; Hand 14: 17; 17: 27. (c) 1 Kor 15: 58; Deut 8: 3; Ps 37: 16; 127: 1, 2. (d) Ps 55: 23; 62: 11; 146: 3; Jer 17: 5, 7.
Vraag 126: Wat is die vyfde bede?
Antwoord: Vergeef ons ons oortredinge, soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree. Dit is: Reken ons, arme sondaars, al ons misdade asook die boosheid wat ons nog aankleef, ter wille van die bloed van Christus, nie toe nie (a). Ons bid dit van U omdat ons hierdie bewys van u genade in ons vind: dat ons die ernstige voorneme het om ons naaste van harte te vergewe (b).
(a) Ps 51: 3; 143: 2; 1 Joh 2: 1; Rom 8: 1. (b) Matt 6: 14.
Vraag 127: Wat is die sesde bede?
Antwoord: En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Dit is: Ons is in onsself so swak dat ons nie een oomblik staande kan bly nie (a). Daarby hou ons doodsvyande, die duiwel (b), die wêreld (c) en ons eie sondige natuur (d), nie op om ons aan te val nie. Wil U ons tog deur die krag van u Heilige Gees staande hou en versterk, sodat ons teen hulle sterk teenstand kan bied en in hierdie geestelike stryd nie beswyk (e) nie, totdat ons eindelik die oorwinning volkome behaal (f).
(a) Joh 15: 5; Ps 103: 14. (b) 1 Pet 5: 8; Ef 6: 12. (c) Joh 15: 19. (d) Rom 7: 23; Gal 5: 17. (e) Matt 26: 4; Mark 13: 33. (f) 1 Tess 3: 13; 5: 23.
Vraag 128: Hoe sluit jy jou gebed af?
Antwoord: Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Dit is: Ons bid dit alles van U omdat U as ons Koning, wat mag oor alles het, ons alle goeie dinge wil en kan gee (a) sodat daardeur nie ons nie, maar u heilige Naam ewig geprys sal word (b).
(a) Rom 10: 12; 2 Pet 2: 9. (b) Joh 14: 13; Jer 33: 8, 9; Ps 115: 1.
Vraag 129: Wat beteken die woord Amen?
Antwoord: Amen wil sê: Dit is waar en seker. Want my gebed is baie sekerder deur God verhoor as wat ek in my hart voel dat ek dit van Hom begeer (a).
(a) 2 Kor 1: 20; 2 Tim 2: 13.
In die grondteks ontbreek die gebruiklike woorde: Aan u behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen. Dit word in die teks gelaat omdat die saak waaroor dit gaan, volgens die Heilige Skrif korrek is
Die Dordtse Leerreëls (1618/19) is die derde van die Drie Formuliere van Enigheid. Die Sinode van Dordt het die dwalinge van die Remonstrante verwerp en die Skrifwaarhede soos volg gestel:
Die volledige teks van die Dordtse Leerreëls word binnekort hier bygevoeg.
Kontak ons predikant gerus vir pastorale sorg, 'n gesprek of enige vrae oor die gemeente.
Selfoon: 074 932 1238
Pastorie: Edwardstraat 43, Randhart, Alberton